Louise Gevers

'n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Van daardie oomblik af was die vrou gesond. Matteus 9:20-22

'n Eensame vrou wat ly, word vir haar geloof geprys.

Ek was nou die dag baie verbaas toe ek my lewenslustige, ouer as negentig-vriendin baie hartseer aantref omdat sy eensaam gevoel het. Sy het baie besoeke van vriende en bure ontvang, maar daar het tog iets geskort. So dierbaar as haar vriende ook al was, kon hulle nie haar verlange stil na haar seun wat met vakansie in 'n ander land was nie; sy het sy besoeke gemis. Nadat ons 'n rukkie gesels het, het sy vroliker geraak en selfs begin praat oor wanneer hy terugkeer en al sy ondervindinge met haar kom deel. Gelukkig vir haar was hierdie 'n korttermyn geval, maar dit is nie altyd die geval nie.

Ons almal is soms eensaam, selfs diegene wat daarvan hou om alleen te wees. Afstand, hartseer, of net die gevoel dat jy nie op dieselfde golflengte as ander is nie, kan tot eensaamheid lei. Gevoelens van skeiding, depressie en verwerping kan dan hulle verskyning maak. Selfs 'n gewone siekte soos oggendnaarheid, wanneer dit baie erg is en lank aanhou, kan die swanger moeder baie geїsoleerd laat voel en ook dat sy misverstaan word. Siek mense word dikwels misverstaan.

Ons kan ons slegs die eensaamheid en lyding voorstel van die arme vrou wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het voordat Jesus haar genees het. Sy was swak, moeg van die bloedverlies, en arm want al haar geld is sonder sukses op dokters gespandeer. Sy is as iemand wat "onrein" is deur ander verstoot, en is verbied om die tempel binne te gaan. Vir twaalf jaar het sy die stryd alleen gestry.

Maar Jesus was aan haar kant. "Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Dit was sy reaksie toe sy in geloof na Hom uitgereik het.

Ons harte mag dalk ineenkrimp oor hierdie arme vrou wat verwerp is en baie gely het en nou voor die skare moet bely dat sy die een is wat aan Hom geraak het. Maar is daar nie rede om saam met haar bly te wees omdat Jesus haar voor die skare genees het en op 'n sagmoedige en respekvolle manier haar geloof geprys het en enige vrees vir teregwysing verwyder het nie? Hy het haar onmiddellik aanvaarbaar gemaak en seremonieel gereinig vir die tempel en dus ook vir die samelewing, en beëindig dus effektief haar twaalf jaar van pyn, skande en eensaamheid. Deur sy sagmoedigheid en liefde voorsien Hy in haar diepste behoeftes.

Jesus sal dieselfde vir ons doen as ons ons in die geloof tot Hom wend.

Gebed: Vader, dankie dat U in die behoeftes voorsien van diegene wat deur Jesus Christus op U vertrou. Dankie dat U vandag steeds die siekes genees en die eensames en armes ophef. Dankie dat U aan ons kant is. Amen