Louise Gevers

en [die vrou] gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is.” Lukas 7:38-39

Sommige mense is van nature spontaan en direk. Hulle wys hulle gevoelens maklik en verbaas mense dikwels met hulle vrymoedigheid. Ander weer, is teruggetrokke en steek hulle gevoelens weg, alhoewel hulle nie minder opreg is as diegene wat dit makliker wys nie. Die stand van dit wat in ons hart is, bepaal die uitdrukking van ons gevoelens, want die manier wat ons praat en en hoe ons ons gedra is 'n aanduiding van ons innerlike toestand. Jesus sê: "Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” (Lukas 6:45) Die betekenis hiervan kom duidelik na vore in ons teks vir vandag.

Die diepte van gevoel waarmee die vrou Jesus se voete gesalf het, kom hier na vore op 'n manier wat nie gewoonlik in die openbaar gesien is nie. Haar aksie kom vanuit 'n gebroke gees, 'n hart wat deur skuld en sonde gebreek is, maar sedert sy die Leermeester se boodskap gehoor het, verstaan sy dat sy vergewe kan word. Skuldig en gebroke, maar oorweldig deur dankbaarheid en liefde vir Hom. In haar staat van diepe berou kan sy Hom nie eers in die gesig kyk nie. Daar by sy voete huil sy, droog die trane wat op sy voete val met haar hare af, soen sy voete en salf dit met reukolie. Sy is duidelik op 'n missie, oorweldig deur haar aanbidding van  sy 'n prostituut was nie verkondig.

Simon, die Fariseër wat Jesus genooi het, kon dit nie verstaan nie. Hy kon nie verby haar beroep kyk nie. Hy het Jesus se egtheid betwyfel want Hy kon nie verstaan hoekom Hy dan nie kon sien dat sy 'n prostituut was nie. Hy het Jesus en die vrou op grond van sy eie eng standaarde veroordeel. Ironies, hy het die vrou veroordeel vir wat sy was, 'n sondaar, terwyl in die oë van God was hy ook een. Simon kon niks van die genade raaksien nie.

Jesus het haar nie weggestuur nie. Inteendeel, toe sy sy voete gesoen en dit gesalf het, het Hy haar diepe liefde vir Hom raakgesien. Hy het haar berouvolle hart en haar nederigheid toe sy haar hare as 'n handdoek gebruik het, gesien. En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.” (Lukas 7:48) en later sê Hy vir haar: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” (Lukas 7:50)

Jesus het toe vir Simon 'n groot les geleer. Jesus vertel 'n gelykenis om te illustreer dat hoe groter die skuld is waarvoor iemand vergewe word, hoe groter is die liefde wat daardie persoon uit waardering sal bewys. Jesus tref toe 'n vergelyking tussen die gasvryheid wat Simon aan Hom bewys het en dit wat die vrou gedoen het om hom (Simon) te help om die waarheid in te sien en te erken.

Jesus het geweet en verstaan waar elkeen van hulle vandaan kom en Hy het hulle ontmoet vir wie hulle was. Wat weet en verstaan Hy oor ons?

Gebed: Here Jesus, help my om my eie hart raak te sien en te besef vir hoe baie U my vergewe het sodat ek U volkome kan liefhê. Amen