Louise Gevers

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. Matteus 11:28-29

Daar is tye in ons lewens wanneer ons die einde van ons eie krag en wysheid bereik en ons, ongeag wie ons is, met ons menslike swakheid gekonfronteer word. Mense kan soms van oortollige bagasie in hulle huise ontslae raak, maar kan hulleself nie bevry van die emosionele bagasie wat hulle met hulle saamdra nie. Wanhoop kan soms ons visie laat vervaag; ons moet verby onsself kyk om teen onsself beskerm te word.

Daar is net een persoon wat werklik aan ons kant is en wat oor die krag beskik om onsself van onsself te bevry. Jesus rig in vandag se teksvers 'n uitnodiging aan almal wat uitgeput en oorlaai is.

Jesus nooi ons uit om na Hom toe te kom wanneer ons moeg en oorlaai is. Hy bied aan ons rus wanneer ons elke dag, onderweg met Hom, ons harte vol hartseer, eensaamheid en pyn voor Hom uitstort en Hy verander ons swaar las. Hy nooi ons uit om ons trots en foutiewe kennis af te lê en sy sagmoedigheid en nederigheid te beleef. Hy leer ons uit sy Woord hoe om op sy manier probleme in ons lewens te benader en hoe om nederig en leerbaar te word soos Hy hier op aarde was. Sy wysheid en krag word ons s'n want ons leef in Hom. Twyfel jy nog dat Hy aan jou kant is?

Jesus ken ons menslikheid. Hy het die laste wat ons dra en wat ons uitput en ons kragte beproef self beleef. Om fisies 'n swaar las te dra, kan bevredigend wees al pyn elke spier in jou liggaam, want ons kan die voordele van ons arbeid sien. Die laste van die hart, verstand en gees is anders. Hierdie innerlike laste kan begin om ons geloof en uithouvermoë te dreineer, en in die weg van oorwinning en groei staan. Voordat ons Jesus om hulp vra, is dit die toestand waarin ons ons bevind. Deur sy woorde te glo en stap vir stap met Hom deur die lewe te gaan, sal ons hoop vernuwe.

“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. “Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” (Matteus 10:29-31) God weet hoe Hy jou in jou moeder se baarmoeder gevorm het, en Hy weet hoeveel hare jy vandag op jou kop het. God is altyd deur Jesus by jou, liefdevol, getrou, sagmoedig, altyd teenwoordig en ewig. Weet dat Hy altyd daar is vir jou.

Gebed: Here Jesus, dankie vir u liefdevolle, sagmoedige uitnodiging aan my om in my lewe saam met U te loop, van U te leer, en om, wanneer ek my laste aan U oorgee, die ware vryheid wat U bied te kan ondervind en 'n oorvloedige lewe te kan geniet. Amen