Louise Gevers

Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. … Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.  Psalm 121:1-4, 7-8

Hoe weet ons dat God aan ons kant is? Ons weet dat Hy ons toerus met alles wat ons vir die lewe benodig, maar wanneer dinge verkeerd gaan en ons swaarkry, depressief is of wanneer ons probleme in ons alledaagse lewe ondervind, vra mense dikwels of God wel weet wat ons deurgaan en of Hy enigsins omgee. Hulle wonder of ons iets verkeerd gedoen het, en God ons nou nie meer raaksien nie.

Die lewe is nooit maklik nie. Vroeër vanjaar het ek 'n ondervinding gehad wat my begrip van hierdie vraag uitgedaag het. Sedert my kinderjare het ek God vertrou om by my te wees en deur verskillende ondervindings gedurende my grootwordjare en my lewe as 'n Christen in die goeie en slegte tye het my geloof gegroei.

Een aand nadat ek my geliefde, maar droeë laventelbosse uit 'n groot kom water wat ek opgegaar het natgemaak het, het ek op die tuinpaadjie oor klippies gestruikel wat veroorsaak het dat ek my balans verloor en hard op my hand geval het. Toe ek opstaan en die seerplek vryf, het ek besef die pyn was erg en om 'n lang storie kort te maak, toe ek heelwat later van die Noodeenheid by die huis kom, was dit met 'n stewig verbinde gewrig en die wete dat twee operasies op my wag.

Ek was geskok dat ek my gewrig in so 'n ontspanne rustige omgewing op 'n pragtige someraand gebreek het. Hoekom? Almal weet tog ongelukke gebeur. Terwyl ek geval het, het die woorde van Psalm 121:3 deur my gedagtes geflits: "Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie …" 'n Bietjie verwarrend in my konteks, maar duidelik nie woorde wat letterlik opgeneem moet word nie!

Die boodskap regdeur die Bybel is om God te vertrou en selfs in tye van swaarkry te volhard. Lyding is nie die einde van die storie nie. Hy het my nie laat struikel nie; inteendeel, sy oneindige liefde en sorg is op baie verskillende maniere en deur verskillende mense aan my geopenbaar. Dit het my pyn en ongemak verander in 'n waardevolle tyd van troos, genesing en herstel.

Soms struikel ons, maar die Vader se liefde en sorg omring ons altyd. Op sy tyd – die regte tyd – verander Hy ons lyding in iets kosbaar, want deur hierdie toetse word ons gevorm en groei ons in die geloof en dit help ons om nader aan Hom te kom en Hom meer te vertrou.

Gebed: Here, dankie dat deur toetse en swaarkry U by ons is en ons help om te volhard, sodat ons "tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming." (Jakobus 1:4) Amen