Deur Benescke Janse van Rensburg

’N Vers-’n-Dag leser skryf onlangs: “Ek gaan tans deur ’n seisoen waarin dit voel asof my gebede teen die dak vasslaan? Ek vra vrae vir God, maar dit voel asof ek net stilte ervaar.” Was jy al in só seisoen in jou lewe?

CS Lewis, die  vorige eeuse professor in Letterkunde aan Oxford- en Cambridge universiteite was al daar. Hy is eers op ’n laat ouderdom met die vrou van sy drome getroud. Hulle was kort getroud toe sy met kanker gediagnoseer is en nie lank daarna gesterf het nie. In die vyftigerjare kon min gedoen word om haar te help.

Ná jare as siniese agnostikus, het CS Lewis kragdadig tot bekering gekom. Hierna het hy wêreldwyd bekendheid verwerf vir sy boeke oor die Christenpraktyk. Die verlies van sy vrou het hom geruk.

In sy boek, A Grief Observed, skryf CS Lewis oor sy bitter hartseer, die verlange, pyn en onbeantwoorde vrae. Hy skryf onder meer iets oor die gelowige se ervaring van “die stilte van God” ten spyte van dringende vrae en gebed. Hy skryf: “Wanneer ek my vrae voor God bring, kry ek geen hoorbare antwoord nie. Tog is dit ’n baie spesiale soort stilte aan sy kant. Sy ‘geen antwoord’ is nie soos ’n toe deur nie. Dit is meer soos ’n stil, begrypende manier waarop God na my kyk. Dit is asof hy sy kop skud, maar nie om te weier nie, maar eerder asof Hy daarmee vir my sê: ‘Wees rustig, my kind, jy verstaan nie.’”

In die “stilte” is God heelwat nader aan ons as wat dit “voel”. In Job 5:11 lees ons: “Dit is Hy wat die vertraptes weer optel, wat uitkoms gee aan dié wat ly.” In Psalm 34:19 lees ons: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” En in 1 Korintiërs 13:12 word ons herinner: “Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”

Het ons al die antwoorde? Nee. Soms het ons net ons geloof in die Een wat wel die antwoorde het. Dit is Hy wat ook in ons rigting kyk met oë wat begryp en hande wat gereed is om ons te vertroos. Kom ons raak rustig en plaas ons vertroue opnuut in Hom. Hy sien die groter prentjie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat u my Vertrooster is. Wees asseblief vandag naby aan my. Verlig my hart se pyn en maak my malende gedagtes stil. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir ons 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..