Deur Benescke Janse van Rensburg

In Lincolm, Nebraska het ’n 19-jarige vrou se woede amper haar huis gekos. Die vrou het haarself vir haar eks vervies en sy liefdesbriewe in ’n kamer in haar huis aan die brand gesteek. Hierna het sy in die kamer langsaan gaan slaap. Die mat in die vertrek langsaan het vlam gevat en die hele huis het begin brand. Die brandweer het net betyds opgedaag om te verhoed dat die hele huis afbrand.

Woede in ons lewens kan met dié vuur vergelyk word. Ná ’n uitbarsting stap ons weg sonder om te besef dat die skade wat ons agterlaat verrykende gevolge kan hê. Watter effek het jou woede op jou kinders? Jou huwelik? Jou werksomgewing? Of jou verhouding met jou bure?

In Spreuke 19:19 lees ons: “'n Opvlieënde mens boet vir wat hy doen. . .” Ook in Job 5:2 staan geskryf: “Verbitterdheid maak 'n dwaas dood, onbeheerstheid vernietig 'n onverstandige.” En in Psalm 37:8 lees ons: “Moenie kwaad word nie, laat staan die woede... dit bring net ellende.”

Beheer jy jou woede of beheer jou woede jou? As jy weet dat dit ’n struikelblok is, kom ons neem dit na God. Hy kan ons vrymaak en in staat stel om met hernude vrede te leef wat alle verstand te bowe gaan. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat U my kan vrymaak van die houvas wat woede op my het. Lei my deur u Heilige Gees in elke situasie die week en vul my met U vrede. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van die tiener van Nebraska by www.benescke.co.za of op Stories van Hoop op Facebook.
  • Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir ons 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..