Deur Benescke Janse van Rensburg

Die dag nadat die Cheetahs die Curriebeker in Bloemfontein gewen het, het hul afrigter Franco Smith ’n kort, maar kragtige getuienis by die Baptiste gemeente in Bloemfontein gelewer. Hy het iets gesê wat my diep laat dink het. In sy loopbaan as afrigter was daar baie suksesse - bekers, toekennings, uitverkoopte stadions. Tog, het hy gewonder: Is dít sukses? Of is sukses as afrigter eerder wanneer jou spelers wegstap as beter mense – beter mans vir hul vroue en beter pa’s vir hul kinders? Só het jy impak omdat lewens beïnvloed word.

Ons elkeen moet onsself daardie vraag afvra: Watter impak het ons op die mense om ons se lewens? Gaan hulle beter wegstap omdat ons in mekaar se lewens was?

In Johannes 15:12 sê Jesus: “Ek het vir julle gewys hoe lief Ek vir julle is. Nou gee Ek vir julle ’n wet: Julle moet ook so lief wees vir mekaar.” (Bybel vir Almal-hersiening)

Die tipe beroep wat ons beoefen, is bloot die platform wat God ons gee om ’n impak vir Hom te maak. Of jy ’n dokter, ’n skoonmaker, ’n motorwerktuigkundige, ’n administrasieklerk, ’n sekretaresse, ’n tandarts of ’n tuisbly ma is, dit is bloot waar God jou geposisioneer het om ’n verskil vir Hom te maak en om mense in jou omgewing te beïnvloed.

Mag ons ophou om sukses na te streef en eerder fokus op die mense om ons. Mag ons aanhou liefde gee en vertrou dat God deur sy Heilige Gees die verskil sal bring. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U almagtig is en in beheer bly. Help my asseblief om die geleenthede raak te sien waar ek kan goed wees vir die mense om my sodat hulle lewens ten goede beïnvloed kan word. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van Franco Smith en die Cheetahs by www.benescke.co.za of op Stories van Hoop op Facebook.
  • Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir ons 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..