Deur Benescke Janse van Rensburg

Weens te veel gemorskos het 'n tiener in Brittanje blind geword! Hierdie mediese verslag is verlede week in die Annals of Internal Medicine gepubliseer. In die artikel word vertel van die 17-jarige Brit wat vir ses jaar lank net aartappelskyfies, skyfies, snye kouevleis en witbrood geëet het.

Alhoewel die seun se liggaamsmassa-indeks, 'n manier om vetsug te bepaal, normaal gebly het, het die tiener aan bloedarmoede begin ly, sy beendigtheid het skerp gedaal en sy vlakke van vitamien B-12, vitamien D, koper en seleen het ingekonk! Die gevolgtrekking van die verslag was dat gemorskos nie ’n toksiese uitwerking op sy sig gehad het nie, maar eerder omdat hy nie genoeg voedsame en 'n verskeidenheid kosse geëet het nie.

Ons as gelowiges kan ook maklik “geestelik blind” word. Ons word blind deur net die voelgoedverse in die Bybel te lees en nie ook ag te slaan op die waarskuwings en teregwysings uit die Woord nie. Wanneer ons egter die Woord in sy geheel en in konteks bestudeer, word dit soos die geestelike vitamiene wat ons versterk om in die storms staande te bly. 

In Romeine 10:17 lees ons: "Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus."  In die Engelse Bybel lees ons: "So then faith comes by hearing, and hearing by the word of God." Ook in Psalm 119:103 lees ons: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.”

Hoe meer ons die Woord bestudeer, hoe sterker groei ons verhouding met God. Ons begin leer ken sy karakter en dit word ook makliker vir ons om in moeilike tye staande te bly omdat ons weet dat God nooit verander nie. Kom ons maak die Woord weer ’n prioriteit. Sterkte. 

Vader God, dankie vir U woord. Help my omnie net te gryp na kitsverse en dit buite konteks te lees nie, maar eerder vir myself af te vra wat dit my van U karakter leer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

• Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir my 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.). Groete, Benescke