Deur Benescke Janse van Rensburg

Hoekom is jy 'n gelowige? Omdat jy bang is jy beland in die hel? Of is dit omdat jy 'n verhouding met God begeer?

Marta en Maria is 'n goeie voorbeeld. Die taakgeoriënteerde suster aan die eenkant, teenoor die verhoudingsgedrewe suster aan die ander. Dít is die afleiding uit die storie in Lukas 10. Jesus kuier by hulle huis in Betanië. Marta werk hard om die kos voor te berei. Maria sit en luister na Jesus se preek. Wanneer Marta daaroor kom kla, antwoord Jesus haar: “Marta, Marta, jy is bekommerd oor so baie dinge en jy maak jou moeg daaroor. Maar daar is een ding wat belangriker is as alles, en Maria het hierdie een ding gekies, en niemand sal dit wegneem van haar nie” (Lukas 10:41-42).

Wat was daardie een ding wat Maria gekies het? Sy was teenwoordig in Jesus se teenwoordigheid. Marta was in Jesus se teenwoordigheid, maar nie teenwoordig nie.

Vandag nog trap ons in dié strik. Ons bid, maar as ons eerlik moet wees, gaan dit meer oor ons eie gemak en gerief eerder as dat ons 'n meer intieme verhouding met God begeer. Ons bid byvoorbeeld vir seëning omdat ons nie wil swaarkry nie. Of vir beskerming omdat ons bang is ons of ons geliefdes kom iets oor. Soms volg ons selfs 'n goed beplande gebedslysie omdat ons bang is ons laat iets uit. Wat ons nalaat om te doen, is om stil te word om te luister wanneer God deur sy Heilige Gees met ons terugpraat. Ons is dus in sy teenwoordigheid, maar nie teenwoordig nie.

In Hosea 6:6 praat God hard met die volk. In sy woorde ontdek ons egter iets van sy hartsbegeerte rondom 'n verhouding met ons elkeen: “Ek wou julle straf, want offers en brandoffers is nie vir My belangrik nie. Ek wil hê julle moet lief wees vir My en julle moet naby My wees” (Bybel vir Almal-hersiening).

God begeer dat ons Hom sal liefhê en dat ons naby aan Hom sal wees. Kom ons sit ons eie begeertes en behoeftes vir 'n slag opsy. Kom ons fokus op God en vier wie Hy is. Kom ons kies daai een ding wat Maria gekies het: Om teenwoordig  in sy teenwoordigheid te wees. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U liefde en genade vir ons elkeen. Vergewe my asseblief vir elke keer wat ek in U teenwoordigheid was, maar nie teenwoordig was nie. Help my asseblief om te hoor wat U vir my wil sê wanneer ek stil raak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke