Dag 1: DIE PIENK BRIL

Deur Benescke Janse van Rensburg

Pienk. Dít is die kleur van Lente. Dít is ook die kleur van die brilglase waardeur ons veronderstel is om na ander te kyk.

In Jesaja 1:18 sê God: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.”

Om die kleur pienk te kry, moet ’n mens rooi en wit meng. Net so, wanneer ’n mens deur pienk brilglase na mekaar begin kyk, onthou ons aan die een kant dat ons eens purperrooi van sonde was – verlore en tot niet, maar aan die ander kant dat God aan ons genade bewys het en sy Seun vir ons opgeoffer het om ons skoon te was. Hy het ons harte met hoop kom vul.

Kom ons sit doelbewus vandag ons “pienk brille” op. Kom ons vra God om ons deur sy Heilige Gees te lei om met sagter oë (en minder oordeel) na onsself en ook na ander te kyk. Kom ons streef daarna om meer geduldig met mekaar te wees en meer genade te bewys. Ons het immers al hierdie dinge onverdiend uit God se hand ontvang. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U genade wat ek elke dag onverdiend ontvang. Help my om deur daai “pienk bril” na myself en ander te kyk. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag: Dink vir ’n oomblik waarvan God jou vrygemaak het. Woede? Vrees? Ongeduld. Word weer stil vir ’n oomblik en bedank Hom daarvoor.
  • Terugvoer: Met die aanbreek van die nuwe seisoen in die natuur, wil ek hierdie maand gesels oor ’n nuwe begin. Ek wil gesels oor God se genade en tweede kanse. Jy as leser kan saamgesels deur vir my 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.). Groete, Benescke