Ben Fourie

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” Romeine 8:37

Romeine 8 verse 31 tot 39 is waarskynlik van die mees gelese gedeeltes in die hele Bybel en tereg ook, want dit is lewende en lewegewende taal wat hier gepraat word. Die gevaar aan so ’n baie bekende en baie gelese gedeelte verbonde is dat die teks mettertyd so bekend word dat die dieper betekenis van die boodskap verlore gaan. Hierdie verse uit Romeine lees boonop so lekker met die taal wat glad vloei en lekker op ’n mens se tong lê, dat jy nog vêrder van die boodskap kan afdwaal.

Hierdie deel kom nadat Paulus oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe geskryf het; onder andere die sonde en straf, die regverdige oordeel van God, die plek van die wet, wet en sonde, die verlossing van die mens, die plek van geloof in ons lewe, lewe deur die Gees en nog ander belangrike geloofsake. 

In vers 31 vat hy alles saam wanneer hy vra wat ons uit al die dinge leer of soos hy dit stel: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?” Dan volg ‘n vloedgolf van positiewe dinge wat vir elke gelowige tot groot vreugde is en ook vir ons ’n anker is op ons daaglikse geloofspad. God is so volledig aan ons kant dat Hy selfs sy eie Seun vir ons aan die kruis laat sterf het. God is so aan die kant van sy uitverkorenes dat geen aanklag teen ons ingebring kan word nie en niemand ons kan veroordeel nie. Ons is reeds vrygespreek. Ons is meer as oorwinnaars, die geveg is klaar en verby. Die dood, die bose magte, die dinge wat ons in die toekoms mag tref is reeds oorwin.

Bo alles troon die liefde van God wat Hy in Jesus Christus vir ons het en niks kan die gelowige skei van hierdie Goddelike liefde nie. Die lesers in Paulus se tyd het fisies onder die owerhede werklike vervolging, honger, naaktheid, gevaar en swaard beleef en in baie lande beleef Christene dit vandag nog. Dit gaan egter nie net oor fisiese gevaar nie, maar ook oor geestelike gevaar en ook daar kan niks ons skei van sy liefde nie.

Gebed: Hoe kan ons ooit genoeg dankie sê vir u liefde wat alle verstand te bowe gaan.  Amen