Ben Fourie

“Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God my Verlosser…” Lukas 1:46-47

In sy boek ‘Sieners van die Môre’ skryf I.L. de Villiers ‘n pragtige hoofstuk getiteld ‘God se kind’ waarin hy wonder oor hoe dit vir Maria moes gewees het nadat die engel aan haar die boodskap gebring het dat sy uitgekies is om die moeder van God se Seun te word. Verstom waarskynlik en hoe verduidelik jy so iets aan jou verloofde, jou ouers, jou uitgebreide familie, die godsdiensgemeenskap waarin jy grootgeword het. Dalk, sê De Villiers, het sy probeer verduidelik; “Dis God se kind, Josef. Ons moet bly wees. Daar was ’n engel …”, maar wat is die kans dat enigiemand so ‘n verduideliking sou aanvaar. Die Bybel sê ook vir ons dat dit vir Josef na ’n verregaande storie geklink het, want volgens Matteus het hy besluit om die verlowing stilweg te verbreek.

Maar Maria weet daar was ‘n engel, Maria weet dat hier iets heeltemal buite die gewone aan die gang was en sy haas haar na aanleiding van die engel se opdrag na haar familielid Elizabeth. Die was ook swanger met die baba wat later as Johannes die Doper die pad vir Jesus sou voorberei. Wanneer hierdie twee vroue bymekaarkom en besef dat God op ’n wonderbaarlike manier in hulle lewens ingegryp het, sing hulle elkeen ’n lied. Dit is veral Maria se loflied tot God wat ‘n mens tref, juis vanweë die nederigheid van die persoon en die pragtige eenvoud van haar woorde.

Dwarsdeur die lied staan Maria vêr op die agtergrond en is dit God wat op die voorgrond is. Maria besing sy grootheid, sy magtigheid, sy ontferming, sy kragtige dade, sy barmhartigheid. Die kere wat sy self in die prentjie kom, is dit om te juig omdat Hy haar Verlosser is, omdat Hy haar in haar geringheid raakgesien het en wanneer sy sê dat geslag na geslag haar gelukkig sal noem, is dit “omdat Hy wat magtig is groot dinge aan my gedoen het.”

Moeder van die Messias, maar nie sy self in die kollig nie, want soos sy in vers 49 sê: “Heilig is sy Naam.”

Gebed: Liewe Vader help my dat ek my eie ek nie so dikwels in die kollig wil sien nie, maar liewer soos Maria al die eer aan U sal gee. Amen