Ben Fourie

“Die hemele vertel die eer van God en die uitspansel verkondig die werk van sy hande … Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel.” Psalm 19:1,8 (1933/1953 Vertaling)

Ek was nog ‘n jong seun toe ek een dag die opskrif by die Psalm gelees het: “Openbaring in natuur en Skriftuur” en skielik het daar vir my ‘n nuwe wêreld oopgegaan in my nog onvolwasse verstaan van God. Ek was ‘n veldkind wat ure lank stokalleen in die rantjies en langs die Oranjerivier naby die Noordweste dorpie waar ons gewoon het, kon ronddwaal. In die somer het ons buite geslaap en die sterrehemel wat wyd oor my uitgespan was, het my gefassineer. By die lees van die hele Psalm het ek vir die eerste keer iets van ‘n geheelbeeld van God gekry. Soos ek ouer geword het, het die Psalm vir my ’n rigsnoer op my geloofspad geword.

Ons leef in ‘n wêreld waar die wetenskap al meer ongelooflike ontdekkings doen. Einstein se teorie van relativiteit, teleskope wat verstommende dinge in die kosmos na vore bring, die ongelooflike onderbou in die heelal wat deur kernfisika blootgelê word en les bes die amper ondenkbare wêreld van kwantum fisika. Vir baie mense het die dinge hulle ongelukkig weggevoer op ‘n pad wat weg van God lei en vir ander het die nuwe verstaan van hoe groot God is hulle juis weer nader na Hom toe gelei. Die verskil tussen die twee groepe lê in die verstaan van die opskrif by hierdie Psalm.

God openbaar Hom inderdaad in die natuur, vanaf die kleinste onderdeeltjie van ‘n atoom tot by biljoene magtige sterrestelsels wat elkeen biljoene sterre bevat. Hy is sigbaar in die mier wat op my arm loop en die mag van die wind wat die bome breek. Om God egter binne al die dinge te verstaan, het ek ook die “Skriftuur” nodig. Wanneer die digter in vers 8 sê: “…die getuienis van die Here is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige” is dit juis die sleutel wat ons nodig het om die geheelbeeld van Hom te kry. Sonder hierdie sleutel kan ons al die wondere van die natuur waarneem, maar nie God se werking daarbinne verstaan nie.

Gebed: Ons dank U, Skepper van hemel en aarde dat U vir ons die heelal gegee het as rigtingwyser na u grootheid, maar ook dat U vir ons u Woord gegee het sodat ons kan leer wie U werklik is. Amen