Ewald Schmidt

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is.”  Romeine 8:18-19

Die lewe is nie altyd net maklik vir God se kinders nie. Ons word nie van al die seerkry van hierdie wêreld gespaar nie. Jesus het ons hierop voorberei, toe Hy gesê het ons gaan bereid moet wees om onsself te verloën, ons kruise op te tel om Hom te volg. (Matteus 16:24-25).  Omdat ons Jesus liefhet en volg, kan ons vervolging te wagte wees: ‘n slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie (Johannes 15:20). Elke kind van God ken lyding in ons lewens. Dit is die stryd wat ons hier op aarde voer, om te bly volhard en afhanklik van die Here te wees. Paulus se eerste lesers het dit baie moeilik in Rome gehad. Die keiser het al klaar begin om Christene te vervolg, hulle is doodgemaak of verban wanneer hulle nie die keiser as ‘n god wou vereer nie. Romeinse burgers is verbied om met hulle handel te dryf, wat dit selfs moeilik gemaak het om ‘n brood te koop. Die eerste eeu se Christene kon nie altyd sien dat daar enigsens ‘n verskil tussen hulle en nie-gelowige mense was nie, inteendeel, hulle lewens het baie erger gevoel as ongelowiges s’n.

Paulus gee hierdie belofte dat dit wat ons in hierdie lewe beleef, baie kleiner is as die heerlikheid wat God in die toekoms vir sy kinders voorberei. Hy het dit ook in 2 Korintiërs 4:17 so gestel: “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan gou verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.” Vandag mag baie moeilik wees, maar vandag is nie die einde van die pad nie. Hierdie moeilike tye is tydelik. Dit gaan verby gaan. Die ewigheid saam met God lê voor, waar daar nooit weer pyn en lyding gaan wees nie. Eendag gaan God in die openbaar bekend maak wie sy kinders is. Daardie dag sal ons verstaan.

Gebed: Here, dit is soms baie moeilik om in hierdie wêreld u kind te wees. Ons word nie gespaar van die seer en gebrokenheid nie. Maar dankie dat U altyd by ons is. Dankie vir u belofte dat die toekoms soveel beter gaan wees, wanneer U bekend maak wie u kinders is. Gee ons die krag om te volhard wanneer ons lewenspad moeilik raak. Help ons om die oog op U gerig te hou. Om uit te hou, en aan te hou tot u eer. Amen.