Ewald Schmidt

“Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” Romeine 8:14-17

Vaderskap is een van die begrippe wat baie seergekry het in ons wêreld. Baie mense loop rond met die seer van die verhouding wat hulle met ‘n aardse pa gehad het. Die seer van ‘n aardse pa wat afwesig was en geen rol in hulle lewe gespeel het nie. Of ‘n pa wat buite God se grense opgetree het en hulle in vrees laat lewe het. ‘n Pa se afbrekende woorde laat ‘n kind so maklik lewenslank wonder of hy/sy goed genoeg is.

 Ek verstaan ‘n pa se rol om daar te wees vir hulle kinders, om hulle lief te hê, te beskerm, en veilig te laat voel in hulle ouerhuis. So baie mense het dit nie ervaar nie. Daar loop baie volwasse mans vandag rond wie se pa nooit gesê het hy is lief vir sy seun, of hom vasgedruk het nie.

‘n Teorie wat ek nogal geloofwaardig vind, is dat mense onbewustelik God sien soos wat hulle hul menslike pa ervaar het. Vir sommige beteken dit afwesig, of iemand om versigtig voor te wees, iemand wat jy nooit tevrede sal stel nie. Die Heilige Gees wil ons egter begelei om God die Vader te leer ken vir wie Hy werklik is. ‘n Vader wat ons gemaak het. ‘n Vader vir Wie ons nooit bang hoef te wees nie. ‘n Vader wat hoor as ons roep. ‘n Vader by Wie ek altyd welkom is. Ek is ‘n erfgenaam in sy huis. Wat aan Hom behoort, deel Hy graag met my.

Wanneer ons dink aan die nuwe lewe wat die Heilige Gees gee in Romeine 8, is dit een van die wonderlike ontdekkings: Die Gees lei ons na die Vader toe. Ons is nie slawe nie, maar kinders. Hoe meer tyd ons in ons binnekamer spandeer, en in ons daaglikse wandel met die Here, hoe meer ervaar ons: God is ‘n wonderlike Vader. Ek kan Hom vertrou. Vandag mag dalk moeilik wees, ons deel in hierdie wêreld in die lyding van Jesus. Maar die Heilige Gees help ons deur hierdie tye heen, totdat ons eendag in die heerlikheid van ons Vader se huis sal wees.

Gebed:  Here, ons lewe in so ‘n stukkende wêreld, waarin baie mense so seer gekry het. Dankie vir aardse pa’s wat hulle kinders die liefde van God laat verstaan. Maar Here, nie almal het sulke pa’s nie. So baie mense het seer as hulle net dink aan hulle pa. Wil U asseblief die seer kom wegvat, en genesing bring? Heilige Gees, dankie dat U mense wil lei om God ons Vader te leer ken vir wie Hy werklik is. Dankie dat ons welkom by ons Hemelse Vader is. Dankie dat U ons onbeskryflik liefhet. Leer ons om U al beter te ken, en te vertrou met ons lewens. Amen