Ewald Schmidt

“Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” Romeine 8:11

Die digter Dylan Thomas het gesê: “Do not go gentle into that good night. Rage, rage against the dying of the light …” Daarmee het hy waarskynlik elkeen van ons se stryd met ons eie sterflikheid goed verwoord. Ons mense sien van nature die dood as die groot vyand van ons bestaan. Ek het die dood al so intens persoonlik beleef in die kere wat ek langs gesinslede se grafte te staan gekom het. Ek beleef dit as leraar elke keer wanneer ek saam met 'n hartseer gesin tot siens moet sê aan iemand vir wie hulle baie lief was. Die dood maak baie seer, en die impak daarvan voel vir ons so absoluut finaal.

Paulus het vir ons darem 'n stukkie hoop gegee in 1 Korintiërs 15:26 toe hy gesê het dat die laaste vyand wat oorwin sal word, die dood self sal wees. In hierdie vers gee hy die groot rede waarom ons nie meer die dood hoef te vrees nie. Die Gees van God het ons Here Jesus uit die dood opgewek. Dieselfde Gees wat dood oorwin, woon ook in elke gelowige. Die belofte waaraan ons moet vashou, is dat die Gees wat Jesus uit die dood laat opstaan het, ook vir ons as gelowiges eendag uit die dood sal opwek. Die belofte wat ons het, is dat ons grootste vyand reeds oorwin is. Al beleef ons die seer van die dood, is dit vir die kind van God net tydelik. Ons lewe met die hoop dat die Gees van God ons weer sal opwek na die dood. Ons verstaan dit nog nie heeltemal nie, maar dit is die belofte van die Woord. Dit laat ons met hoop lewe. Hoop is 'n woord wat seergekry het in Afrikaans. “Hoop” beteken nie dat daar 'n vae moontlikheid is van iets goeds wat kan gebeur nie. Dit beteken dat iets wonderliks vir ons in die pyplyn is, en op die regte tyd in vervulling sal gaan. Dit is die belofte wat God die Heilige Gees gee vir elkeen wat “in Christus” leef vir die Here.

Gebed: Here, ek weet ek is klein en nietig. Ek sien hoe die skadus al hoe langer word in my lewe. Die dag is besig om verby te gaan. Maar U stap 'n pad met my, veel langer as my toegelate tyd op aarde. Dankie dat die ewigheid veilig in u hande is. Dankie vir die belofte van lewe anderkant die dood. Gee my dan krag om vas te hou aan die vaste hoop wat Jesus vir my verdien het, toe Hy uit die graf uit opgestaan het. Dankie vir die lewe, Here! Amen.