Ewald Schmidt

“Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.” Romeine 8:10

Een ding word vir my net al hoe duideliker: niemand van ons is bestand teen die gang van die tyd nie. Stadig is ons ouers besig om hulle tol te eis, Vader Tyd en Moeder Natuur. Elke keer as ek in die spieël kyk, is daar nog grys hare by. Ek beleef dit elke keer as ek oefen vir my gunsteling jaarlikse fietswedren. Die bulte rondom Tafelberg word jaarliks al hoe steiler, en die tyd wat ek neem om dit te voltooi, word jaarliks al hoe langer. As ek terugkyk, dan was daar tye wat ek jonger, en sterker, en vinniger was as vandag. Hierdie liggaam waarin ek woon, is maar 'n tydelike geskenk. Hy word opgebruik. Hy breek al hoe makliker. Hoe ek ook al daarteen stry, dit bly die werklikheid: die skaduwees word al langer, en my lewensdae word al hoe minder. Dis nooit lekker om daaraan te dink nie: eendag gaan hierdie liggaam nie verder kan gaan op die lewenspad nie. Daar is 'n dag waarop elkeen van ons vir die laaste keer opstaan. Dit is so vir alle mense. Maar voor jy moedeloos word en die gimnasium nog harder gaan tref, dit is net die een kant van die waarheid van ons vers vandag.

Die baie groter waarheid wat ons nie nou al verstaan nie, is dat ons terselfdertyd bestem is om te LEWE! Ons hoofstuk leer ons van die nuwe lewe wat die Gees van God vir ons gee wanneer ons “in Christus” is, wanneer ons kinders van God geword het wat ons lewenspad saam met Hom stap. Ons liggame mag tydelik wees, en vinnig opgebruik word. Maar deur die Gees het ons die ware lewe as geskenk ontvang. Die ewige lewe wat nie kan klaar raak nie. God het ons reeds vrygespreek van die vloek van sonde en dood, het ons in vers 1 gehoor. Ons het nou reeds die ware lewe ontvang wat vir altyd sal hou. Daarom behoort ons nie die verouderingsproses van ons liggame te sien as die einde van die pad nie. God is met ons op pad, en deel van hierdie reis is om uiteindelik klaar te maak met die aardse bestaan, en gereed te wees vir die ewige reis saam met Hom. In sy hande is ek veilig vir die res van die ewigheid.

Gebed: Hemelse Vader, dit bly maar 'n uitdaging om die verwering van my aardse liggaam te aanskou. Dis nie maklik om te aanvaar dat my liggaam ouer word, en al meer verweer raak in my lewensreis nie. Help my om vrede daarmee te maak. Help my om op U te vertrou vir die ware lewe, die ewige lewe deur die Gees, waarin daar geen veroudering of verwering plaasvind nie. Dankie vir die ware lewe! Amen