Ewald Schmidt

“Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.” Romeine 8:9

Tydens my universiteitsdae het ons koshuis 'n gangbraai buite die stad gehou. Een groep vriende het daardie aand lekker saam gekuier. Die volgende oggend kon nie een van hulle onthou wie het die voertuig terug bestuur of waar die duik in die modderskerm vandaan gekom het nie. Met groot genade het hulle daardie reis oorleef. Is dit nie wat in baie mense se lewens gebeur nie? So baie leef onbewus van wie die stuurwiel van hulle lewe vashou, waarheen hulle op pad is, en hoekom daar so baie duike in die bakwerk van hulle lewe is.

Gister het ons gelees dat iemand wat nie deur die Heilige Gees gelei word nie, nie vir die Vader vreugde bring nie. Daar is 'n baie beter alternatief om my lewe op koers te hou. Ons, wat in Christus is, se lewe word nie deur ons sondige natuur beheer nie. Ek het agter die stuurwiel van my lewe uitgeklim. Ek het die beheer oorgegee aan die Heilige Gees. Nou is my lewe in goeie hande. Die Heilige Gees is God wat kies om in sy kinders te woon. Hy kom vernuwe ons lewe van binne af. Hy gee ons die innerlike krag om nuut te dink, nuut te doen, nuut te leef.

Hoe sal ons weet of ons werklik God se kinders is, vra Paulus. Die Heilige Gees woon in God se kinders. Ons sal Hom raaksien in ons lewens. Waar Hy is, daar kan ons sy werk sien. 1 Korintiërs 12:3 sê dat niemand kan sê dat Jesus Here is sonder die Gees se hulp nie. Die vrug van die Heilige Gees is onmiskenbaar in 'n gelowige se lewe. Ja, almal van ons is mos maar gebroke, maar die liefde, vreugde, vrede … dit begin duidelik deurskemer in 'n gelowige se lewe. Sonder die Heilige Gees kan ons nie aan die Here behoort nie. Met Hom in beheer word my lewe nuut. Dan het ek vertroue dat ek by die regte bestemming gaan uitkom – my Bestuurder ken die pad!

Gebed: Heilige Gees, neem elke dag weer beheer van my lewe, en hou my op die regte koers. Dankie dat U getrou is, dat U die beste vir my in gedagte het, dat U altyd by my is. Amen