Ewald Schmidt

“Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.” Romeine 8:8

Kan mense wat die Here nie ken nie, nie goeie dinge doen nie? Ons elkeen ken mense wat hulleself nie as Christene sou beskryf nie, en tog leef hulle baie voorbeeldige lewens. Selfs mense wat niks met die Here te doen wil hê nie, leef soms lewens wat van baie mooi morele waardes getuig.

Hoe moet ons dan hierdie vers verstaan? Onthou dat elke vers gelees moet word in sy groter konteks. Die hele hoofstuk vertel van die nuwe lewe wat gelowiges ervaar wanneer hulle toelaat dat die Heilige Gees hulle stuur en lei. Hierdie hoofstuk is gerig aan mense wat “in Christus” is, mense wat in 'n verhouding met Jesus lewe. Hulle het hul vertroue in die leiding van die Heilige Gees geplaas, hulle lewens is daarop gerig om God te eer.  Die  1933/1953 Afrikaanse vertaling sê dat mense wat in die vlees lewe, (nie deur die Gees gelei word nie), God nie kan behaag nie.

Mense wat nie die Heilige Gees volg nie, leef nog nie in 'n verhouding met God nie. Hulle het nog nie uitgekom by die heel belangrikste verhouding waarvoor God ons geskape het nie. Hulle kan natuurlik baie goeie dinge doen, en baie mooi lewens lei. Hulle doen dit egter nie om God te verheerlik nie.

Wanneer ons “in Christus” is, het ons deel van God se koninkryk geword, waar Hy heers. Ons staan in 'n nuwe verhouding met God- ons is sy kinders. Ons is tuis by ons Vader, ons is nie net dagbesoekers in sy oord nie. Elke ouer weet dat 'n mens se kinders in 'n totaal ander verhouding met jou staan as die res van die mensdom. Kinders gee soveel meer vreugde as vriendelike ander mense. Ons Hemelse Vader geniet sy kinders. Hy geniet dit dat ons soos Hy wil wees. God IS liefde, het 1 Johannes 4:17 gesê. Ons Vader het ons gemaak na sy beeld. Ons is gemaak om God se liefde uit te leef. Wanneer ons ons deur die Gees van God laat lei, dan doen ons dit: ons het lief, omdat God ons liefhet. God se liefde bepaal hoe ons lewe, en ander mense hanteer. So is God se kinders geroep om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak deur hulle Vader se liefde.

Die vraag met hierdie vers is nie of elke mens in staat is om goeie dinge te doen nie. Dit vra eerder na die motief: Hoekom doen jy goeie dinge? God se kinders antwoord: Om ons Vader te eer.

Gebed: Here, ek wil so graag in harmonie lewe met die plan wat U vir my lewe het. Ek wil so graag toelaat dat die Heilige Gees my vorm, en my lei om 'n verskil te maak waar ek gaan. Ek wil graag tot u eer lewe. Help my asseblief deur die krag van die Heilige Gees om dit te doen. Amen