Ewald Schmidt

“Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees.” Romeine 8:5

Wie is op die oomblik agter die stuurwiel van jou lewe? Paulus noem twee moontlikhede hier. Die standaard toestand van ‘n mens na die sondeval is dat my sondige natuur in beheer is. Van nature hou ek daarvan om self in beheer te wees, en my eie keuses te maak volgens my goeddunke. Hierdie lewenswyse veroorsaak so dikwels moeilikheid, want ek is geneig van nature om baie selfgesentreerd te lewe. Die dinge van die sondige natuur het Paulus in Galasiërs 5:19 beskryf- “onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer (jaloesie), woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al derglike dinge…” Dit alles klink na verskriklike dinge, en ek sien dit gewoonlikmaklik in my buurman se lewe raak. Is van daardie simptome nie dalk in ‘n ligte mate in jou en my lewe ook teenwoordig nie? Is dit nie wat ons verhoudinge soms so moeilik maak nie?

Wanneer Jesus Here van my lewe word, dan is dit nodig dat ek agter die stuurwiel sal wegskuif, en die Heilige Gees die geleentheid gee om oor te neem. Hoe sal ek weet of die Heilige Gees in beheer is van my lewe? Jesus het gesê ‘n mens ken ‘n boom aan sy vrugte. Die dinge van die Gees word ook die vrug van die Gees genoem in Galasiërs 5:22. Die vrug van die Gees is: “Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing …” 'n Mens sien sommer dadelik dat die Gees 'n mens op 'n ander pad neem. Jou fokus in die lewe is nie meer eerste jyself nie, maar om die Here te verheerlik met jou lewe. Daarna stel jy jou naaste se belange bo jou eie. Dit werk veral baie goed in die huwelik! Die vrug van die Gees herstel gebroke verhoudings, en maak dit vir ander mense lekker om saam met ons te wees. Dit is die tipe dinge waarmee ons besig is as kinders van God. Die vrug van die Gees help ons om ons karakter te vorm, dat ons meer en meer soos Jesus sal lyk, en optree. Hierdie lewenswyse maak die lewe sommer baie meer sinvol vir onsself, en die mense rondom ons.

Gebed: Here, ek het so lank in my lewe my eie kop gevolg, en my eie plannetjies beraam. Dikwels het my planne misluk, en het ek ander seergemaak in die proses. Neem asseblief die stuurwiel oor van my lewe, Gees van God. Stuur U my waar U my graag wil hê, en vorm U my soos U my graag wil sien. Amen