Ewald Schmidt

“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” Romeine 8:1

Die Gees van God kom maak mense nuut, en gee vir ons hoop. In hierdie maand nadat ons Pinkster gevier het, gaan ons saam reis deur een van die groot hoofstukke in die Bybel. Romeine 8 besing die werk wat die Heilige Gees in gelowiges se lewens doen.

Een van die groot vrae waarmee Christene worstel, is of my sonde werklik vergewe is. As ons terugkyk oor ons lewens, dan is daar sekere episodes waaroor ons dalk baie skaam voel. Miskien het daar al lelike dinge gebeur. Kan die Here my werklik vergewe vir alles wat ek al gedoen het in my lewe?

Sit Hy nie by die oordeelsdag al my verkeerde keuses in een weegbak van sy skaal, en my goeie dade in die ander kant nie? ‘n Reis deur Romeine sê nee. Almal van ons het ons geskiedenis waar ons God se doel in ons lewe gemis het. Sonde se loon is die dood, sê Romeine 6:23, daar haak baie vas. Maar die genadegawe wat die Here eerder gee is die ewige lewe in Jesus ons Here. Deur ons geloof in Jesus word ons vrygespreek van God se oordeel, sê Romeine 5:1. God se genade is groter as die ergste ding wat ek ooit kon doen. Wanneer ons met ons stukkende lewens na Jesus toe kom, vergewe Hy ons. Hy maak ons nou alreeds vry! Aan die kruis het Jesus gesê “Tetelestai”- dit is volbring, die prys is ten volle betaal. Daarom kan Paulus ons in Romeine 5:2 verseker: As Jesus jou Here is, is daar nou alreeds vrede tussen ons en God. Daar wag nie slegte verrassings vir ons by die oordeelsdag nie. Jesus kom haal die las van ons verlede van ons skouers af, sodat ons met geloof die lewenspad saam met Hom verder kan aanpak. Hy vind vreugde daarin om ons ‘n nuwe begin te gee! Stap jy nog gebukkend onder die las van jou verlede? Bring daardie las vir Jesus, kom ontvang die ware lewe nou by Hom.

Gebed: Here Jesus, baie dankie dat U my so duur gekoop het. Dankie dat ek nou alreeds seker kan wees dat my skuld betaal is, wanneer U die Here van my lewe is. Dankie Jesus, ek kon nie myself red nie, sonder U was ek verlore. Gees van God, help my nou om voluit vir Jesus te lewe! Amen