Xanthe Hancox

Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”  Lukas 22:19

Jesus wil hê dat ons Hom moet onthou, en Hy gebruik kos as 'n manier om ons met Hom te verbind. Die Nagmaal is 'n viering van Christus se oorwinning oor die sonde en die dood, en oor Satan en sy bondgenote. Om deel te hê aan hierdie maaltyd is 'n kragtige getuienis vir die wêreld dat Jesus die Here is en die Koning van alle konings.

Hoe kan die eet van 'n stukkie brood en die drink van 'n bietjie wyn (of soos die geval in my kerk, druiwesap) so 'n sterk boodskap uitdra? In die Tuin van Eden het die eet van 'n vrug die wêreld in sonde gedompel. Een happie van ongehoorsaamheid het aanleiding gegee tot die dood van Adam en Eva – en van ons almal. Agter die verbode vrug het die duiwel gefluister. Maar sonde en die duiwel het nie die laaste sê nie.

Jesus, die Seun van God, het mens geword en sy liggaam vir ons opgeoffer, sy bloed vir ons gestort sodat ons verhouding met God herstel kan word. Wanneer ons by sy tafel aansit, is dit 'n teken dat ons deel is van dit wat Hy vir ons aan die kruis bereik het. Hy het ons sonde ten volle betaal. Ons vier dit deur die maaltyd te eet waardeur Hy ons vra om Hom te onthou!

Gebed: Vader, dankie dat u Seun sy lewe vir ons gegee het. Herinner ons daagliks aan dit wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het. Ons bid dit in sy Naam. Amen