Xanthe Hancox

en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.”  Eksodus 16:14-16

In vandag se vers lees ons oor die Israeliete wat pas van slawerny in Egipte bevry is. Inderdaad 'n rede tot groot blydskap! Maar hulle groot vreugde is baie gou deur 'n gekla vervang. Hulle was honger, hulle was kwaad, hulle was bitter en hulle het begin kla dat hulle beter af was as slawe.

Die Here het met Moses en Aäron gepraat en hulle het vir die volk gesê: "môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset.het."

Wat beteken dit? Tot 'n sekere mate klink dit meer na 'n dreigement as 'n belofte. Sal God verheerlik word deur die volk te veroordeel? Word die volk deur woorde of op 'n ander manier gestraf? Beteken dit dat hulle gaan sterf?

Nee, niks van bogenoemde nie. Inteendeel, heeltemal die teenoorgestelde het gebeur. Die mag van die Here het in 'n woestynwolk gekom. God is verheerlik deur aan sy volk te voorsien: 'n swerm kwartels in die aand en in die oggend, 'n oorvloed manna. Is dit nou nie wonderlik nie? Hierdie gebeure was 'n groot vertoon van God se groot genade. Terwyl almal nog besig was om te kibbel en kla, het God rustig 'n laag kos op die grond uitgestrooi, en Moses het vir die volk gesê: Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet."

Te midde van ons klagtes, ontvang ons ook dikwels stil-stil God se seëninge. Sien ons daardie tekens van God se genade diep binne in ons raak?

Gebed: Genadige God, ons kla en kerm dikwels net soos die volk van Israel. Ons vra dat U vandag deur u genade ons sal help om minder te kla. Help ons om op U te vertrou. Amen