Xanthe Hancox

Daarna het Jesus in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het. Toe die skrifgeleerdes onder die Fariseërs sien dat Hy saam met sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Waarom eet hy saam met tollenaars en sondaars?” Markus 2:15-16

Dit is interessant om te dink oor die mense met wie Jesus tyd sou spandeer as Hy vandag op aarde geleef het. Sou ons Hom aangetref het by 'n gemeentepiekniek of by die glansetes wat deur oorbetaalde regeringsamptenare aangebied word? Dit is moeilik om Hom by laasgenoemde voor te stel, maar ete by Levi was nie juis waar ordentlike mense uitgehang het nie.

Levi, ook bekend as Matteus, was 'n tollenaar vir die Romeinse regering. Soos baie ander tollenaars, was hy miskien ook korrup. Hy het heel waarskynlik ryk geword deur oormatige groot belastings te hef en die ekstras in sy eie sak gesteek. Hy was die tipe persoon wat eerlike, hardwerkende mense nie van gehou het nie. Die meeste van hulle het hom ook geen kans by God gegee nie. En tog, was hy iemand wat Jesus in sy genade raakgesien het. Hy was presies die tipe mens vir wie Jesus gekom het om te verlos.

Jesus se woorde laat ons besef dat daar niemand is wat sy liefde nie kan bereik nie. Hy het nie gekom "om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” Hy het gekom om God se liefde te deel met mense wat geestelik siek en onsmaaklik is. Hy het vir elkeen van ons gekom en dit maak nie saak hoe groot ons sondes is nie. Hy roep ons om Hom te volg.

Gebed: Dankie Vader, dat U vir ons voorsiening maak. Dankie Jesus dat U ons leer hoe om ons Vader se goeie gawes te vier. Help ons om u voorbeeld van liefde en deernis te volg en ons huise oop te maak vir diegene wat U ken, maar ook vir die wat U nie ken nie. Amen