Louise Gevers

Daar is verstand nodig om 'n huis te bou, insig om sy fondamente te lê, kennis om sy kamers te vul met allerhande kosbare en mooi goed. Spreuke 24:3-4

Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word, sodat jy uiteindelik wysheid kan hê.  Spreuke 19:20

Soos elke kamer wat beplan en voorberei is uiteindelik vorm aanneem om die presiese ruimte en gemak te voorsien waarvoor dit ontwerp is, word die bou van 'n huis 'n lonende proses. 'n Huis wat goed gebou word, neem 'n lang tyd om te voltooi. Die wag is egter die moeite werd, want dit gaan vir baie jare die nodige skuiling en sekuriteit verskaf. Vir die huis om te bly staan, moet dit op 'n stewige fondament gebou word.

In KwaZulu-Natal het onlangs stortreën geval wat tot vernietigende vloede en modderstortings gelei het en wat die ineenstorting van verskeie huise in verskillende dele tot gevolg gehad het. Sommige mense het gesterf en baie ander is haweloos gelaat. Ongelukkig was nie al die huise met die nodige sorg gebou nie en is daar nie aan die nodige regulasies gehoor gegee nie wat vernietiging en dood tot gevolg gehad het.

In ons vers vir vandag word daar na die bou van 'n huis verwys, 'n metafoor vir ons lewens, deur gebruik te maak van wysheid, insig en kennis. Jesus het gesê: "Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. (Matteus 7:24-25)

Die boek Spreuke is 'n ryke versameling van insig en waarnemings om ons praktiese vaardighede te leer hoe om volgens die wysheid van God te leef, en dit bevat ook waarskuwings hoe om morele gevare te vermy. Hierdie spreuke is deur Salomo, en ander wyse manne, geskryf om die mense van hulle tyd te leer, maar dit is vandag steeds relevant. Wysheid is 'n noodsaaklike kwaliteit wanneer ons die huis van ons lewens bou. Dit stel ons in staat om hierdie huis met "allerhande mooi goed en kosbaarhede" te vul wat noodsaaklik is om goed te kan leef. Reg aan die begin maak Spreuke dit egter duidelik: "Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag." (Spreuke 1:7)

Die soeke na wysheid het reeds in die Tuin van Eden begin toe Eva deur die slang verlei is om van die verbode vrug as 'n potensiële bron van wysheid, te eet. (Genesis 3:6) Haar besluit om toe te gee aan die versoeking om dit wat God verbied het te bekom, was duidelik 'n onwyse besluit, en dieselfde geld vir Adam. Wysheid en dissipline gaan hand aan hand – die een benodig die ander vir sukses. Elke stukkie wysheid wat in Spreuke opgeteken is, benodig dissipline om dit uit te voer. Ons kan dit bereik as ons onsself aan God oorgee want Hy "vul ons met krag en liefde en selfbeheersing." (2 Timoteus 1:7)

Spreuke het 31 hoofstukke. Stel vir jouself die uitdaging om elke dag een hoofstuk te lees en vier die wysheid wat in jou lewe groei. Die Here seën jou.

"Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het, wat insig as sy deel ontvang het, want dit bring meer winste in as silwer en lewer 'n groter opbrengs as goud. Dit het meer waarde as edelstene; … (Spreuke 3:13-15)

Gebed: Liefdevolle, wyse Vader, ons weet dat deur U Jesus in wysheid en insig gegroei het toe Hy op aarde was. Ons vier U wysheid in ons lewens en ook dat U aan almal wat U daarvoor vra, meer wysheid skenk. Dankie dat U ons liefhet en vi rons omgee. Amen