Louise Gevers

En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Lukas 1:46-49

Wat laat jou siel die Here vereer en jou in Hom verbly?

Maria se wonderlike en inspirerende woorde kom uit 'n hart gevul met verwondering en dankbaarheid teenoor God. Hy het gekies om haar te begunstig, 'n jong, geringe meisie, om die moeder te word van "die Seun van die Allerhoogste" aan wie se "koningskap daar geen einde sal wees nie." (Lukas 1:32-33) God se onvergelykbare getrouheid teenoor Abraham en sy nageslag verbly haar. Hy het voortdurend aan hulle genade en krag bewys deur die armes te versorg en groot dinge vir Israel te doen.

Maria verheug haar in God en sê hierdie jubelende woorde nadat Elisabet getuig: "Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” (Lukas 1:45) en deur die Heilige Gees openbaar Elisabet dat die kindjie in haar van vreugde beweeg het by die klank van Maria se stem, en reeds in die baarmoeder gereageer het op die belangrike seën wat sy van God ontvang het.

Maria se eerste reaksie op die woorde van die engel bewys dat sy nooit gedink het dat sy geskik sou wees vir hierdie groot eer nie, want: "Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken." (Lukas 1:29) Het God haar werklik raakgesien of het die engel 'n fout gemaak? Tog het sy nooit ongeloof gewys nie, selfs nadat die engel die verbysterende plan verduidelik het, was sy kalm en vol geloof: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het. …” (Lukas 1:38)

Ons kan ons maar net voorstel hoe Maria moes gevoel het toe sy die implikasies besef van wat moes gebeur; maar sy het nie gehuiwer nie en gehoorsaam alles opgeoffer: Josef kon van haar skei, haar familie kon haar verwerp; sy kon gestenig word … maar sy het geglo: "Niks is vir God onmoontlik nie.” (Lukas 1:37) En Hy het haar spoedig in haar geloof bemoedig toe sy sien haar niggie, Elisabet, was wonderbaarlik swanger soos die engel gesê het dit sou wees.

Maria was 'n gewone mens met dieselfde kapasiteit vir nederigheid, geloof en gehoorsaamheid as waaroor ons beskik. Watter wonderlike bemoediging vir ons! Ons kan dankbaar wees omdat ons gewone, nederige mense is en nie toelaat dat dit ons terughou omdat ons dink ons is nie goed genoeg nie, Ons kan ons verbly dat die Here net na ons harte kyk en na ons uiterlike, persoonlikheid of talente nie, en ons ken sy woorde aan Paulus: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Korintiërs 12:9)

Kom ons vier ons wonderbaarlike God en laat toe dat ons deur Maria se nederige gehoorsaamheid bemoedig word en ons geloof daardeur groei.

Gebed: Here, Maria se dankbaarheid en gehoorsaamheid is 'n werklikheid, maar ons bely dat dit nie altyd so maklik is om ons eie planne en idees te laat vaar en dit aan die wil van iemand anders te onderwerp nie. Help ons om ons aan U te onderwerp. Help dat ons geloof sal groei sodat u krag in ons swakheid volbring kan word, totdat ons ook u goedheid waarlik kan vier. Amen