Louise Gevers

Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here God is 'n veilige toevlug. Jesaja 26:3-4

Vrede is iets waarna almal op soek is: eksterne vrede, vry van konflik en geweld en innerlike vrede, vry van angs en verwarring. Ons was almal hiervan bewus in die aanloop tot die verkiesing terwyl daar op verskillende plekke 'n toename in geweld was en die verantwoordelikheid om regverdige leiers te verkies, swaar op ons gerus het. Vrede is egter nie net die afwesigheid van geweld en ongemak nie, dit is die krag van 'n hart vol vertroue wat tot 'n kalm verstand in alle omstandighede lei.

Die beeld van skape in groen weivelde is seker een van die vreedsaamste tonele denkbaar. Daar is iets aantreklik aan 'n groep wolbedekte skape wat naby mekaar met geboë koppe staan, besig om in kalmte te wei. Wat maak dat hierdie sagte, weerlose diere so onverstoord en kalm voorkom?

Miskien kan hulle so onverstoord wei omdat hulle nederig is en 'n skaapwagter het wat vir hulle omgee. Miskien geniet hulle vriendskap, goeie kos en innerlike sekuriteit en is hulle tevrede met die lewe. Alhoewel hulle soms dae ondervind wanneer hulle koppe stamp, hulle geliefkoosde bossies skaars is, 'n wolf verskyn om hulle aan te val, of hulle tydens 'n storm moet saamdrom, weet hulle tog dat die skaapwagter hulle geblêr sal hoor, na hulle probleme sal omsien en hulle na 'n skuiling sal lei.

Ons moet die skaapwagter ken wat vir ons omgee en ons help om ware vrede te ken. Jesaja verwys ons die Almagtige God wat sy kudde soos 'n herder versorg, "die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie." (Jesaja 40:11) Hy is nie soos die baie "skaapwagters" wat ons in die lewe teëkom wat ons ongelooflike planne en subtiele beloftes aanbied om ons lewens te verryk met spesiale stelsels vir ons gesondheid, skemas om ons status te verhoog, vermaak om ons leefstyl te bevorder, waarvan nie een vrede kan waarborg nie. Watter een van hierdie skaapwagters gee werklik vir ons om, lei ons in die waarheid en is toegewyd genoeg om na ons ewige welstand om te sien?

Jesus sê: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 'n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy 'n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is 'n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie." (Johannes 10:11-13)

Die weg na vrede is deur 'n geloofsverhouding met Jesus. Hy vergewe ons sondes en herstel ons. Hy lei ons in geregtigheid, bly by ons "deur donker dieptes", Hy is ons bondgenoot in die aangesig van "teëstanders", Hy ontvang ons soos eregaste en oorlaai ons met hartlikheid. (Psalm 23:3-5)

In Hom kan ons ware vrede vier.

“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. (Johannes 14:27)

Gebed: Liefdevolle Herder, ons is bly omdat U u skape ken, en omdat ons U ken. U is die bron van vrede want U beloof om ons nooit te verlaat nie. Dankie dat U ons help in moeilike en eensame tye en dat U ons ewige Rots is. Amen