Louise Gevers

Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins. Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is 'n god so groot soos God? U is die God wat wonderdade doen; U het u mag onder die volke geopenbaar. U het u volk deur u krag gered, …   Psalm 77:12-16

Ons spandeer so baie tyd in ons besige lewens om dinge te moet onthou dat ons nie normaalweg aan 'onthou' dink as iets om te vier nie. Alledaagse dinge wat ons moet onthou, soos om kos uit die vrieskas vir aandete te haal of petrol in die kar te gooi, is ten spyte van die ooglopende voordele, nie juis iets wat ons dink werd is om te vier nie. Iets soortgelyks is die sug van verligting wat 'n mens slaak wanneer jy uiteindelik op pad is vir die vakansie en jy weet al die stres om alles te onthou wat moet saamgaan, was die moeite werd.

Wat ons wel graag wil onthou, is die mooi oomblikke in ons lewens. Ons vier dit met foto's en aandenkings, en ons herdenk spesiale dae. Sommige mense hernieu hulle troubeloftes na jare van getroud wees om hulle liefde te vier. Hierdie is dinge wat ons gelukkig maak. Mense wat in 'n verhouding met God is, soos die psalmdigter, dink graag aan die spesiale dinge wat Hy vir ons gedoen het, en dank Hom daarvoor. Wanneer ons dit doen, groei ons in geloof en vertroue.

Die wyse skrywer van Prediker sê: "Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.” (Prediker 121) Hoe jonger 'n mens is wanneer jy 'n verhouding met God aangaan, hoe beter. 'n Jongmens is nog ontvanklik vir die waarheid en vertrou nog makliker, en is miskien nog nie so verlei deur die subtiele wanvoorstellings wat die wêreld bied nie. Moeilike omstandighede het nog nie sy hart verhard nie. Deur in jou jeug aan jou Skepper te dink, bied 'n vaste grondslag vir jou lewe, en jy kan die lewe tot in ewigheid vier.

In vandag se teksvers dink die psalmdigter, wat 'n intieme kennis van God het, aan die grootheid van God en aan elke wonderdaad wat Hy gedoen het, asook aan sy interaksie met die mens. Bestudeer ons die Psalm van nader, vind ons dat die psalmdigter beangs is, verward omdat dit lyk asof God, ten spyte van sy volharding, nie sy gebed en sy hulpgeroep hoor nie. "Ek roep na God om hulp, ek roep na God, want Hy sal my hoor.In my nood soek ek hulp by die Here; ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie." (Psalm 77:2-3) 

Te midde van sy nood, hou hy nie op om in God te glo nie, maar word hy geїnspireer om alles wat hy van God se grootheid weet neer te skryf; deur God se wonderdade en krag te onthou, neem sy geloof toe. Ons almal beleef een of ander tyd slapelose nagte wanneer ons beangs is en worstel met dinge wat ons nie verstaan nie. Die psalmdigter noem dat ons moet dink aan wat God gedoen het, ons moet sy mag en sy wonderdade onthou, en ons moet onthou dat Hy God is. Hy sal aan ons vrede en slaap skenk, en die moeilike tye verander in ondervindings om ons sterk en standvastig te maak.

Dink eerste aan God en vier jou verhouding met Hom.

Gebed: Liewe Heer, “As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my 'n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my." (Psalm 63:7-9) Ek dink aan U en ek is bly. Amen