Hennie Symington

“Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. Lukas 22:42

Die tyd het aangebreek vir Christus om te sterf. Dit is ook die tyd vir Christene dwarsoor die wêreld om hulle na binne te keer en hulle harte te ondersoek om hulle voor te berei vir die Passie van Christus.

Die kruis is nie slegs die keerpunt in die geskiedenis van die wêreld nie maar ook ʼn keerpunt in ons lewens. Meer as enige ander Christenfees, is dit die tyd wanneer Christene tot stilstand kom om na te dink oor die kern van hulle geloof.

Paasgebed

Here, dis te laat om stil te bly.

U’t te veel gesê en te hard gestry;

U het die “goeie mense” vir adders uitgeskel,

“witgepleiserde grafte”, swart soos die hel.

U het die siekes en die uitgeworpenes omhels,

U het vreesloos gepraat namens die met geen sê,

die mense geleer om ander lief te hê.

U omarm die belastingaarders,

U pleit vir die armes, prostitute en melaatses,

U staan op vir die bedelaars en die lammes.

U’t van die wet en die regulasies vergeet,

toe U die wet aan die liefde meet.

U ly namens die mens vir kwytskelding.

Nou het die tyd gekom vir vergelding:

Here, hulle kom U haal om U aan ʼn kruis te hang!

Ag, Here, wat het U aangevang?

Gebed: Here, as ek net so ʼn bietjie dapperder was, sou ek opstaan en aan die wêreld verkondig: Jou Redder het gekom, maar jy’t hom weg gewens. Ag, Here, wat het ek aangevang? Amen