Hennie Symington

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek roep. Psalm 22:2

Wie kan ons van die liefde van Christus skei? … Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.  Romeine 8:35a. 37

Daar is tye wanneer elkeen van ons deur ʼn geestelike woestyn moet reis. Dis die tye wanneer dit voel asof niks jou kan bevry van ʼn gevoel van uiterste verlatenheid nie. Digters en skrywers verwys graag hierna as die “donker nag van die siel.” Dis daardie tye wanneer dit vir jou voel asof daar ʼn onoorbrugbare afstand is tussen jou en die veilige hawe van ʼn God wat luister, ʼn God wat omgee, ʼn God wat sien, en ʼn God wat antwoord. In tye soos hierdie wanneer jy totaal en al verlate voel, is dit raadsaam om rustig te raak in die verwagting dat God sal antwoord soos wat Hy in die verlede gedoen het.

Miskien is dit die regte tyd om die gallery van gelowiges wat God se teenwoordigheid betwyfel het, te besoek. Dink aan Elia onder die besembos, Job wat sy sere op die ashoop sit en krap, Dawid wat vlug vir sy lewe waar hy wegkruip in ʼn grot, en Christus wat van die kruis af roep: “My God, my God, waarom het U my verlaat!”

Ons troos is dat hierdie stilte voor God dikwels die teelaarde vir ʼn dieper begrip van die diepste sin van jou bestaan, waar jy die dieptes en die hoogtes van God se genade ervaar. Vertrou, dat jy weer die sagte klank van God se stem in jou lewe sal ervaar. Glo en vertrou dat God jou nie vergeet het nie en dat jy weer nuwe lewe in Christus sal ervaar. Waarom? Want God is getrou.

Gebed: Here, ons weet dat die lewe nie altyd ʼn plek van blydskap en heling is nie. Vir talle is die lewe ʼn lewende hel van verlies teleurstelling. Wanneer dit winter in my lewe is Here, bid ek dat U ʼn duif in die vorm van u Woord sal stuur om my aan u teenwoordigheid te herinner. Gee my die geduld om te wag en nie af te dwaal nie, maar om te glo en te vertrou op die belofte dat U my nooit sal verlaat nie. Amen