Hennie Symington

Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag.  Psalm 13:4

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?  My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.  Psalm 22:2-3

Wie kan ons van die liefde van Christus skei? … In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet.  Romeine 8:35a, 37

Daar kom ʼn tyd in elkeen van ons se lewens wanneer jy ʼn sielstilstand ervaar en jy jou in ʼn figuurlike ‘niemandsland’ van geloof bevind. Dit is die tye wanneer dit voel asof daar niks is wat jou kan red uit die verlatenheid van ʼn gevoel dat daar ʼn onoorbrugbare afstand bestaan tussen jou en die veilige sekerheid van ʼn God wat hoor, ʼn God wat sien en ʼn God wat antwoord. Wat dan?

Dit is ʼn tyd van die groot stilte. Dis nie net ʼn gevoel van God wat jou nie antwoord nie, maar jy self ervaar ʼn onvermoë om jou tot God te rig in gebed. Dis nie asof jy ontken dat God daar is nie; jy het net nie die moed of die woorde om Hom aan te roep nie.

Wanneer dit gebeur is dit tyd om laag te lê. Dit is nie die tyd om wilde uitsprake te maak oor ʼn God wat nie daar is nie, of ʼn God wat nie omgee nie. Dit is eerder ʼn tyd om te wag met verwagting dat God sal antwoord soos wat Hy in die verlede geantwoord het.

Miskien is dit die tyd om die gallery van moedeloses te besoek en te kyk na die rye gelowiges wat gevoel het God is nie meer daar nie: Elija onder die besembos, Job op die ashoop, Dawid op vlug in die spelonk, en Jesus wat aan die kruis uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat!”

Hierdie stilte voor God is dikwels die teëlaarde vir ʼn groter begrip van die diepte van jou bestaan en die hoogtes van God se genade. Glo dat jy weer die sagte ruising van God se stem in jou lewe sal hoor. Aanvaar dat jy die versekering het dat God jou nie vergeet het nie en dat jy saam met Christus die opstanding tot ʼn nuwe lewe sal ervaar. Hoekom? Want God is getrou. 

Gebed: Here, die lewe is nie altyd ʼn plek van heling en geluk nie. Vir baie van ons is dit ʼn nagmerrie van verlies en teleurstelling. Wanneer dit winter in my lewe is, stuur U ʼn duif in die vorm van u Woord op my pad om my aan u teenwoordigheid te herinner. Leer my om te wag in die belofte dat U my nooit sal verlaat nie. Amen