Hennie Symington

“Julle is die sout van die aarde. Maar as sout verslaan het hoe kry ʼn mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mens vertrap dit. Matteus5:13-15

As Christene toenemend soos vreemdelinge voel in die soort die wêreld waarin ons ons bevind, is die gesegde “onbekend maak onbemind” dalk waar in terme van die tye waarin ons leef. Dalk is dit juis tyd dat ons as die “sout van die aarde” kennis moet neem van die tye waarin ons leef.  

As aardbewoners wat terselfdertyd hemelgangers is, moet ons bedag wees op ʼn paar tendense wat reeds in ons samelewing weerspieël word. Een van die verskynsels van ons tyd is dat pluralisme hier is om te bly. Ons leef inʼn globale wêreld waar kulture, godsdienste en ander verskille tussen mense gelyk gemaak word – ten goede of ten kwade.

Die tegnologie oorheers ons lewens maar terselfdertyd is daar ʼn toenemende bewustheid van die “regte” van die natuur wat gerespekteer moet word. Die lot van ons moeder, die aarde is ten nouste verbind aan ons oorlewing al dan nie.

Daar word toenemend gekyk na geregtigheid, menseregte en armoede wêreldwyd. Die mens is op soek na egtheid en wil deel wees van besluitneming wat hulle wêreld raak. In teenstelling hiermee word ons denke alhoemeer deur die media beïnvloed. Die grootste bedreiging is egter die aarde wat kreun onder die las wat die mensdom daarop plaas.  

Dis genoeg om enige Christen te laat sidder. Tog het Pous Johannes Paulus II die koms van die Derde Millennium as “lente in die Christendom” beskryf. Hoekom sou hy so iets doen? Omdat jy as Christen, meer as ooit te vore in die geskiedenis uitgedaag word om jou geloof geloofwaardigheid te gee deur die manier waarop jy leef en liefhet.

Wat gaan jy doen om hierdie lente te laat kom? Jou hande was aan hierdie tyd? Of gaan jy die lig en die sout wees in ʼn skepping wat toenemend vervreem is van sy Skepper? Jy kan kies om deel van die herskepping te wees, of om jou skynheilig eenkant te hou.

Gebed: Here, ons is so vol vrese vir die toekoms. Daar is niks meer wat seker is nie. Help my om steeds sout en lig te wees. Amen