Hennie Symington

“Ek is wat Ek is”. Eksodus 3:14

“Ek is die Alfa en die Omega, sê die Here God. Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Openbaring 1:8

Ons almal het waarskynlik ʼn ideale prentjie van God in ons gedagtes. Vir sommige is Hy die patriarg en vir ander die aartsfeminis of, les bes, die Sinterklaas wat gee, gee en gee. Ander wil Hom graag kan omvat met hulle verstand maar, volgens een teoloog is ʼn God wat jy kan begryp, geen God nie. Ander sê weer as jy God in jou gedagtes probeer voorstel sit jy met ‘n blote afskynsel van God.

Wie is God dan?

Hy is die Alfa en die Omega, die A to Z van die heelal. Hy is ewig en alwetend. Sy naam is groot bo almal. Vir Abraham was Hy: “Ek is” en vir Paulus “Abba” of Vader.

Hy is die Skepper. In die mees poëtiese taal moontlik vertel die Bybel ons dat God die hemel en aarde en die uitspansel met oneindige sorg geskep het met die mens as die kroon van die skepping.

Hy is die God wat roep. (Adam en Eva in die tuin. Abraham om te trek. Moses in die brandende braambos).

“Ek is die Here jou God …”Hy is die eerste en enigste God wat Hom deur die Woord aan die mens bekend gemaak het, lees ons in die inleiding tot die tien gebooie.

Vir Moses is Hy “Ek is” en vir Paulus “Abba” of Vader.Hy is ook in beheer van die geskiedenis van die mensdom. Hy ken die verlede, die hede en die toekoms. Meer nog, Hy is in beheer van jou persoonlike geskiedenis. Hy het jou by jou naam geroep en dit op sy handpalm gegraveer.

Die kernvraag is: Wie is Hy vir jou?

Een ding weet ons verseker: dat daar Iemand in die heelal is wat ons as sy geliefde kinders beskou en nie bloot as ʼn plaag wat uitgewis moet word nie. Wat ons trouens, so liefgehad het, dat Hy sy geliefde Seun prysgegee het om ons tuis te bring by ons Vader.

Gebed: Here, ons kan U nie in ons gedagtes omvat nie; ons het nie woorde om u almag en grootheid na regte te beskryf nie. Daarom kom U na ons toe in die vorm van ʼn nederige kind, en loop U die stofpaaie saam met ʼn eenvoudige bende manne om iets van U oneindige liefde te toon. Amen