Neville Turley

… Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. 1 Petrus 5:5-6

Christenskap is 'n godsdiens van blydskap. 'n Vreugde wat mens met ekstase vervul wanneer jy in die boek Openbaring lees watter heerlike, wonderlike bestemming op ons wag.

Ons het alle reg om optimisties te wees. Ons hoop is nie net wensdenkery nie, maar dit is stewig gegrond op die Woord van God.

Die feit dat ons verseker is van ons bestemming beteken egter nie dat ons onsself 'n trappie hor as ander moet ag nie. Hoogmoed is 'n dodelike sonde. In ons vers vir vandag sê Petrus dat hoogmoed 'n skeiding tussen die mens en God is.

Jesus het Hom ernstig uitgespreek teen hoogmoed. In 'n gelykenis vertel Hy van twee mans wat na die tempel gegaan het om te bid. Een was 'n Fariseër en die ander 'n tollenaar. Die Fariseër het weg van die tollenaar gestaan en arrogant gebid. Hy het God gedank dat hy nie soos die ander was nie. Hy was nie gierig, oneerlik, 'n egbreker of soos die tollenaar nie. Hy het twee keer per week gevas en sy tiende gereeld gegee.

Die tollenaar het eenvoudig sy hoof gebuig en gebid: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.” (Lukas 18:14)

Ds Attie van der Colff (1939-2018), 'n afgetrede NG predikant, was 'n nederige man wat naby God geleef het. Sy afskeidsboodskap om sy geliefdes wat hy agtergelaat het, te vertroos, getuig daarvan.

Die dag wanneer jy my in die hemel soek,

sal jy my daar kry,               \

waar die nederigstes en geringstes van sy kinders bly.

Nie in 'n voorgestoelte of plek van eer —

Dis vir heiliges en martelare reserveer,

Maar agter, naby haar wat net

aan Sy kleed se soom kon raak.

Vra vir Legio en die ander melaatses

of die kruiseling wat gesê het: "Dink aan my"

Hul sal jou kan sê waar ek bly.

Want ek is daar uit loutere genade

by dié in wie jy geen verdienste vind

daar het Hy my plek berei.

Ek sal daar sit met 'n bekertjie in my hand

Wat oorloop van lof en prys en dank.

Attie van der Colff

Gebed: Here, skenk aan ons genade om onderweg na ons hemelse bestemming nederig en liefdevol te wees. Dit bid ons in Jesus se Naam. Amen