Neville Turley

Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, …  Filippense 2:8-9

Kommunikasie is lewensbelangrik vir 'n verhouding. Om die waarheid te sê, 'n gebrek aan kommunikasie is die spyker in die doodskis vir menige verhoudings. Die Here wil met ons kommunikeer, en Hy wil hê dat ons met Hom kommunikeer.

Ons doen dit wanneer ons bid, want deur gebed ervaar ons die liefde van God, en vereer ons sy Naam wanneer ons gehoorsaam sy wil soek.

Gebed is uiters persoonlik, 'n ontmoeting tussen ons swak, weerlose mense en die Almagtige God. God is groot en almagtig, en ons is onwaardig. Dit is moeilik om te verstaan hoekom die Skepper van die heelal enigsins bemoeienis met ons maak. En tog, wonder bo wonder, God doen dit.

Ons is sy handewerk en Hy het ons bo alles lief. Net soos 'n ouer nooit ophou om 'n stout kind lief te hê nie. Ten spyte van ons sondes wat ons van God vervreem, skryf die Here ons nie af nie.

Hy het sy Seun gestuur om die sondes van diegene wat waarlik hulle sondes bely op Hom te neem. Aan hulle gee Hy die reg om sy kinders genoem te word en Hom Abba, Vader te noem.

In Openbaring 5 beskryf Johannes 'n visie van God die Vader wat op sy troon sit. In sy regterhand hou Hy 'n boekrol met sewe seëls. Niemand op aarde of in die hemel is waardig om die seëls te breek en die boek oop te maak nie. Die gedagte het Johannes so ontstel dat hy bitterlik gehuil het. Toe het een van die ouderlinge vir Johannes gesê:  “"Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.” (Openbaring 5:5)

En toe daar voor al die hemelse wesens het Jesus die troon genader en die boek van God die Vader ontvang. Toe Jesus die boek in ontvangs neem het die engele 'n lied gesing om Jesus as Here te erken. “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie (Openbaring 5;9)

Die sleutel tot effektiewe gebed is om deur Jesus ons Here tot God die Vader te bid. Hy is ons hoop, ons alles.

Gebed:  Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees ons harte en verstand sal open om opnuut die hoop waartoe ons geroep is, te verstaan. In Jesus se Naam. Amen