Neville Turley

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My." Openbaring 3:20

Ons vers vir vandag is een van die gewildste verse in die Bybel. Dit is al ontelbare kere gepubliseer, gewoonlik met 'n illustrasie van die Here met 'n kroon op sy kop en 'n lantern in die hand.

Die meeste mense beskou dit as 'n uitnodiging aan diegene wat nie Christene is nie. In die Bybel is dit egter 'n uitnodiging aan die gemeente van Laodisea. Mense wat volkome deel van die Christengemeenskap was. Die Here spreek ernstige kritiek uit oor hierdie gemeente.

"Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg." (Openbaring 3:15-16)

Ons Here is 'n God wat omgee. Nadat Hy hulle uit liefde en bekommernis oor hulle welstand, ernstig tereggewys het, nooi Jesus die Laodiseërs om hulle harte vir Hom oop te maak. Soms verval mense in dieselfde gewoontes as die Laodiseërs. Hulle het getrou elke Sondag kerk bygewoon, maar dit was al. Die Here verlang meer as dit, Hy wil 'n persoonlike verhouding met ons hê.

Jesus wil elke dag van die week 'n intieme deel van ons lewe wees.

As ons die deur oopmaak en Jesus in ons harte innooi, word die Heilige Gees ons gids, en Hy rus ons toe vir die uitdagings van die lewe en help ons om as oorwinnaars na vore te tree.

Die Here wil selfs meer vir ons gee: "Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het." (Openbaring 3:21)

In Jesus is daar wonderlike seëninge vir ons.

Gebed: Drie-enige God, bring ons na U deur Jesus Christus, wat by U is en saam met U in eenheid met die Heilige Gees regeer, een God nou en vir ewig. Amen