Neville Turley

Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’  Handelinge 22:10

Paulus was 'n goed geleerde Fariseër wat onder Gamaliël, 'n gerespekteerde leermeester van die wet, gestudeer het. Paulus se intellektuele vermoë is deur die Joodse hiërargie erken, en hulle het hom hoog geag.

Paulus, wat toe nog bekend was as Saulus, was onderweg na Damaskus met 'n bekendstellingsbrief van die Hoëpriester en Joodse Raad in die sak. Sy opdrag was om alle Jode wat volgelinge van Jesus was, te arresteer en hulle in kettings na Jerusalem te bring om gestraf te word.

Onderweg na Damaskus, het die Here Paulus gekonfronteer en is hy op 'n dramatiese wyse bekeer. Ons teksvers beskryf Paulus se onmiddellike reaksie en die Here se antwoord.

Jou bekering was miskien nie so traumaties soos die van Paulus nie. Die gebeure het hom tydelik blind gelaat. Die meeste van ons het ook nie so 'n vlymskerp verstand soos Paulus nie. Hy het onmiddellik na sy bekering gereageer met die woorde: "Wat moek doen, Here?"

Die Here het Paulus nie self geantwoord nie. Hy het Paulus na Damaskus gestuur waar God se plan vir hom geopenbaar sou word.

Die Bybel leer ons dat God 'n plan het vir elkeen van ons wat Hy uitverkies het. "Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het." (Efesiërs 2:10)

Jesus self het gesê dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien. Ons is ook nie hier om gedien te word nie, maar om te dien. God seën ons ryklik elke dag. Ons moet ruimhartig van ons tyd, talente en geld gee.

Sommige lesers van vers-'n-dag doen dit reeds, onder andere deur te help om Gods Woord beskikbaar te stel deur die Bybelgenootskap se Bybel-per-Maand Klub. Deur hierdie ondersteuning, help hulle om Bybels in die hande van mense te plaas wat honger is vir die Brood van die Lewe.

Hulle is saaiers van hoop.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir U ryke seëninge. Gee dat deur u Heilige Gees ons sal leer wat u wil vir ons lewe is. Ons bid dit in die Naam van Jesus, ons Here. Amen