Neville Turley

“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”  Matteus 6:24

Een van die nare aanmerkings wat soms oor Christene gemaak word, is dat hulle so op die hemel fokus dat hulle hier op aarde niks beteken nie. Die teenoorgestelde kan natuurlik ook oor sommige mense gesê word. Mense kan so obsessief raak oor geld dat hulle nie meer 'n ewigheidsperspektief het nie, met nadelige gevolge.

Die manier wat ons ons geld bestuur, is belangrik. Inderwaarheid, so belangrik dat daar meer tekste in die Bybel is wat oor geld handel as verse wat oor die liefde of geloof handel.

Die Here maak dit baie duidelik dat God altyd ons eerste prioriteit moet wees. Die eerste gebod wat aan Moses gegee is, lui: "Jy mag naas My geen ander gode hê nie." (Eksodus 20:3)

Daar is niks mee verkeerd om geld te besit, of selfs baie ryk te wees nie. Die Bybel is vol raad oor hoe geld verantwoordelik hanteer moet word. Dit is nie geld as sulks nie, maar die liefde vir geld wat die wortel van alle kwaad is.

Jesus het Hom sterk uitgespreek teen die dwaasheid om rykdom op aarde te vergader, eerder as in die hemel. "Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matteus 6:21)

In een van sy gelykenisse vertel Jesus ons van 'n man na wie Hy as 'n dwaas verwys. Die man het grond besit wat rekordoeste opgelewer het. So groot was die oes dat hy nie meer stoorplek gehad het nie. Sy oplossing was om groter store te bou om die oes te stoor. "Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’" (Lukas 12:19) Maar God het besluit dat die man daardie nag sou sterf. Sy selfsugtige hoop en planne vir die toekoms het vir ewig uitmekaar geval.

Die gelykenis van die ryk dwaas is 'n ernstige waarskuwing vir ons. Ons moet nie deur geld gemotiveer word nie, maar deur die Heilige Gees gedryf word. Ons bewys ons liefde vir God deur goed te doen, vrygewig te wees en deur altyd gereed te wees om die hoop wat ons in God deur Jesus Christus het, met ander te deel. Op die manier maak jy vir jou 'n skat in die hemel bymekaar en sal jy tevredenheid vir die siel ondervind.

Gebed: Hemelse Vader ons erken U as die gewer van alle goeie dinge. Gee aan ons die wysheid om die rykdom waarmee U ons seën tot u eer te gebruik. In die Naam van Jesus bid ons dit. Amen