Neville Turley

Toe het ek 'n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie.  Openbaring 20:11

Die sogenaamde "Doomsday Clock" is 'n mitiese horlosie. Dit dui nie tyd aan nie, maar dit dui aan hoe naby, volgens wetenskaplikes, die wêreld aan 'n mensgemaakte katastrofe is wat ons planeet heeltemal kan vernietig.

Die "Doomsday Clock" het vir die eerste keer sy verskyning gemaak in die eerste uitgawe van die "Bulletin of Atomic Scientists" wat in Junie 1947 verskyn het. Op die voorblad was die gesig van 'n horlosie wat aangewys het hoe naby die mensdom was om homself deur 'n kernoorlog te vernietig. Die tyd wat aangedui is, was sewe minute voor middernag.

Die Bulletin verskyn steeds. Elke jaar dui die horlosie aan hoe naby die wêreld aan totale uitwissing is. Die laaste uitgawe het die tyd op twee minute voor middernag aangedui.

Drie scenarios wat die wêreld tans in gevaar stel, word uitgewys – die toename van kerngevaar wat kleiner moondhede inhou, die impak van klimaatsverandering op ons omgewing en die vals inligting wat deurgegee word om voor te gee dat klimaatsverandering nie so ernstig is nie.

In Genesis lees ons dat God gekyk het na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit was voordat God die mens in beheer van die skepping geplaas het en ons begin het om 'n groot gemors daarvan te maak.

Die Wêreld-Natuurfonds rapporteer in 'n 2018-verslag dat daar die afgelope 40 jaar 'n ongelooflike afname van soogdiere, voëls, visse, reptiele en paddas is. Die grootste bedreiging vir hierdie spesies wat geïdentifiseer is, is as gevolg van menslike aktiwiteite wat onder andere tot 'n verlies van natuurlike habitat lei. Verder is daar 'n verlies as gevolg van roof en plunder, oorbevissing en ongekontroleerde jag van hierdie spesies. Die mens saai verwoesting onder ons wildslewe, in die woude, oseane en riviere. Ons hele ekosisteem word bedreig.

Wel, die mens het 'n verantwoordelikheid voor God om hierdie saak in orde te kry!

Die aarde sal verbygaan, wetenskaplikes het dit wel reg. Dit gaan egter nie wees wanneer die mens so besluit nie, maar wanneer God dit bepaal. Dit gaan ook nie 'n somber dag wees nie, maar 'n dag van groot blydskap. Met die wederkoms van Jesus Christus sal ons hoop vervul word.

"Jesus sê toe weer:“Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde." (Openbaring 22:12-13)

Gebed: Hemelse Vader, U alleen bepaal ons lot. Gee dat u Heilige Gees ons sal lei en help om beter bewakers te wees van dit wat aan ons toevertrou is, en ons pligte met verantwoordelikheid uit te voer. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen