Neville Turley

Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.  Openbaring 22:1-2

Indien jy onder stres is en voel jy is uitgebrand, neem tyd om in die natuur te spandeer. Niks is meer verkwikkend as om in die prag van God se natuur te ontspan en te voel hoe die bekommernisse verdwyn nie.

Die Engelse digter en liedskrywer, Dorothy Gurney (1858-1932), beskryf die oomblikke so pragtig in haar gedig “God’s Garden”.

"The kiss of the sun for pardon,

The song of the birds for mirth, -

One is nearer God’s heart in a garden

Than anywhere else on earth."

Drie tuine speel 'n groot rol in God se handeling met die mens.

God het Adam en Eva in die idilliese Tuin van Eden geplaas. Alles was volmaak totdat Adam en Eva vir die duiwel se listigheid geval het en van die verbode vrug geëet het. Ons almal ly onder die gevolge van daardie sonde.

Dit was daar in die Tuin van Getsemane wat Jesus se verskriklike lyding begin het toe Hy verraai en gevange geneem is. Dorothy Gurney beskryf daardie oomblik wat uiteindelik gelei het tot die Lam van God wat sy lewe gegee het om ons van sonde te verlos.

"For he broke it (Christ’s heart) in a garden,

Under the olive trees

When the angel of death was the warden

And the soul of the world found ease."

In ons vers vir vandag, word die hemel aan Johannes geopenbaar as 'n pragtige tuin met 'n rivier van lewende water en die boom van die lewe wat vrugte dra. Wat die Goeie Herder aan gelowiges op aarde beloof het, word in die hemel vervul. "Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed." (Johannes 10:10)

Ons dien 'n wonderlike God. Al ons hoop is op Hom gevestig.

Gebed: Hemelse Vader ons loof U, ons aanbid U. Skenk ons krag en genade deur u Heilige Gees sodat ons u heerlikheid kan verkondig. Amen