Neville Turley

“Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees.  Lukas 12:4-5

Jesus het hierdie woorde gesê toe 'n skare van duisende mense vergader het om na Hom te luister. Hy het sy volgelinge gewaarsku dat hulle vervolg sou word. Dit was 'n waarskuwing wat sy dissipels ter harte geneem het.

Volgens kerktradisie het slegs Johannes, wat vir baie jare in ballingskap op die eiland Patmos geleef het, en Judas Iskariot, wat selfmoord gepleeg het, nie 'n marteldood gesterf nie. Sedertdien het ontelbare Christene gesterf omdat hulle hulle geloof in Jesus Christus verkondig het. Vandag sterf daar jaarliks, na raming ongeveer 10 000 Christene ter wille van hulle geloof.

Die woorde "moenie bang wees nie" kom herhalend in die Bybel voor. Ons moet ons angs oorwin en dapper en moedig van ons geloof in Christus getuig, selfs al lei dit tot die dood.

Jesus maak dit baie duidelik dat diegene wat Hom wil volg eers die koste van dissipelskap moet bereken. Hy stel dit baie reguit. “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg." (Matteus 16:24) Niemand moet onder enige illusie verkeer nie. Om Jesus te volg beteken nie 'n sitplek op die soustrein hemel toe nie. Om Jesus te volg, beteken om Hom volkome eerste te stel in jou lewe en om standpunt vir Hom in te neem ondanks wat die gevolge vir jou mag inhou.

Toe 'n wetsgeleerde probeer het om 'n strik vir Jesus te stel deur vir Hom te vra wat hy moes doen om die ewige lewe te ontvang, het Jesus hom gevra wat die Skrif sê. "Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” “Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.” (Lukas 10:27-28)

Die sleutel tot die ewige lewe is om jou tot Jesus te wend, jou kruis op te neem en ondanks die koste, Hom te volg. Die verkondiging van hierdie boodskap is die rede hoekom God ons hier op aarde geplaas het.

Dit is die hoop wat ons persoonlik moet verkondig asook indirek om met die Woord van God na ander uit te reik.

Op watter manier roep die Heilige Gees jou om betrokke te wees?

Gebed: Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees ons in ons Christenskap sal lei en dat deur Jesus ons u Kerk sal groei tot eer van u Naam. Amen