Neville Turley

Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee. 2 Korintiërs 5:4-5

Vrees en angs is deel van die daaglikse spanning wat ons regdeur ons lewe ervaar. As daar nou iemand was wat rede gehad het om hoop te verloor, dan was dit Paulus.

Hy was nie 'n gesonde man nie. Vir 'n groot deel van sy lewe het hy gely aan waarna verwys word as 'n doring in sy vlees. Gebed het nie die probleem genees nie. Gedurende die verloop van sy bediening is Paulus talle kere in die tronk gegooi, en soms is hy met brutaliteit hanteer en verneder.

Vyf keer het hy 39 houe aan die hand van die Jode ontvang. Die Jode het hierdie spesifieke prosedure gevolg wanneer hulle lyfstraf toegedien het. In Deuteronomium 25:3 word lyfstraf tot 40 houe beperk en om te verseker dat die Wet nie oortree word nie, het gevangenes 'n maksimum van 39 houe ontvang. Oortreders se klere is uitgetrek en hulle is met uitgestrekte arms tussen twee pilare vasgebind. Die Skrif is dan hardop voorgelees terwyl die houe met 'n sweep toegedien het.

Tydens sy reise om die evangelie van Jesus te verkondig, is Paulus ook drie keer deur die Romeine geslaan en deur sy eie mense verwerp en met klippe gegooi. Hy het drie keer skipbreuk gely en oorleef, waarvan hy een keer 24 uur in die water gedryf het. Regdeur sy bediening het Paulus gevare beleef wat vloede, rowers, Jode en heidene ingesluit het. Hy was dikwels honger en dors, met 'n behoefte aan akkommodasie en klere.

Tog het Paulus volhard, hy het aanhou preek, skryf en gemeentes geplant sodat die evangelie van Christus hoop regoor die wêreld kon bring. Deur die Bybel pluk ons vandag nog die vrugte van Paulus se bediening.

Paulus het nooit aan sy finale bestemming getwyfel of aan dit wat daar by God vir hom wag nie – en ons moet ook nie twyfel nie.

Gebed: Hemelse Vader, skenk aan ons die nodige moed en krag om dl die uitdagings in ons lewe te kan oorkom. Ons bid dit in die Naam van Jesus alleen. Amen