Neville Turley

Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. 1 Korintiërs 13:12

Dit maak nie saak hoe ons ons verbeelding toelaat om op hol te gaan nie, dit bly moeilik om 'n mens voor te stel hoe dit in die hemel gaan wees wanneer ons Here Jesus ons tuis verwelkom. Hoe gaan dit wees wanneer tyd ophou om te bestaan en ons nie langer aardsgebonde is nie?

Die Woord van God gee ons 'n aantal kykies na die lewe anderkant die graf. Ons leer onder andere dat ons nie ons eie identiteit en persoonlikheid gaan verloor nie. Jy gaan steeds jy wees en ek ek.

Die dood beroof ons nie van ons vermoë om ander te kan herken nie en ook nie van ons geheue om diegene wat ons agterlaat, te onthou nie. Groot gaan die vreugde wees wanneer ons verenig word met diegene wat ons vooruitgegaan het. Stel jou voor hoe dit gaan wees om gelowiges wat ons in die bladsye van die Bybel leer ken het, te ontmoet.

Jesus se gelykenis oor die ryk man en die bedelaar, Lasarus, gee ons 'n diep insig in die lewe na die dood. Die ryk man het in weelde geleef. Hy was selfsugtig en het niks omgegee vir die bedelaar by sy hek nie. Lasarus het in vreeselike armoede en pyn geleef. Hy was so oortrek met sere dat hulle hom elke dag na die straat langs die ryk man se huis moes dra. Daar het hy gewag in die hoop dat krummels van die ryk man se tafel in sy rigting sou kom. Hy was swak en weerloos, en kon nie eers die honde wegjaag wat sy sere gelek het nie.

Die Here het beide hierdie mans se harte geken. Lasarus is dood en het hemel toe gegaan. Die ryk man is dood en hy het hel toe gegaan. Daar in die plek van lyding was hy diep bekommerd oor sy vyf broers. Hy wou nie dat sy lot hulle moes tref nie.

Hy het by Abraham gepleit om Lasarus te stuur om sy broers te gaan waarsku. Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’ Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’ Maar hy sê vir hom: ‘As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.’ (Lukas 16:29-31)

Die gelykenis van die ryk man en Lasarus is uniek tussen die baie gelykenisse wat Jesus vertel het. Dit is die enigste een waar Jesus 'n naam aan een van die karakters gegee het. Lasarus is die Griekse vorm van die Hebreeuse naam, Eleasar wat beteken "God is my helper".

Leer Jesus ons deur Lasarus se naam in die gelykenis te noem dat al is ons hoe desperaat en die situasie hoe donker, ons steeds moet hoop?. Ons moet steeds Lasarus se verhaal onthou en vashou aan daardie goue woorde – God is my helper.

Gebed: Genadige Vader, skenk aan ons genade om tot u eer te leef. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen