Neville Turley

Daarom moet niemand op mense roem nie. Alles behoort aan julle: of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle, maar julle behoort aan Christus en Christus aan God.  1 Korintiërs 3:21-23

Stel jou voor, jy beleef erge lyding, jou liggaam is deurtrek van pyn. Jy is op die drumpel van die dood, toe jy die woorde hoor:  “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43) Dit was die ondervinding van een van die misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is. Ten spyte van sy eie intense lyding, het Jesus in liefde uitgereik en die siel van 'n verlore misdadiger gered.

Mense vertel jou dikwels dat hulle nie bang is vir die dood nie, maar dat doodgaan vir hulle skrikwekkend is. Indien ons nie seker is waarheen ons na diedood gaan nie, behoort ons bang te wees, inderdaad baie bang. Die Bybel vertel ons dat die dood nie die einde van ons bestaan is nie. So wat gebeur na die dood? Ons verander in 'n oogwink. Ons liggame keer terug na die aarde, maar ons gees leef voort. Gelowiges in Jesus Christus weet wat vir hulle wag. "In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is." (Johannes 14:2-3)

In ons vers vir vandag verwys Paulus na die dood as een van God se geskenke aan ons. Vir die wêreld is die dood die ergste wat met 'n mens kan gebeur. Vir ons Christene is daar hoop in die dood, want die dood is die deur na die paradys waar ons Here wag om ons tuis te verwelkom.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u Seun, Jesus Christus. Gee dat die Heilige Gees ons sal inspireer om in sy voetspore te volg en u hemelse heerlikheid bekend te maak aan 'n wêreld wat in duisternis gehul is. Amen