Neville Turley

“Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.” Johannes14:21

Meer en meer mense lei 'n afgesonderde bestaan. Onsekerheid oor veiligheid maak dat sommiges hulle wonings beveilig met diefalarms, geslotekringkameras en elektroniese strale. Elektriese heinings en hekke is 'n algemene verskynsel.

Ons pogings om ons gesinne en onsself teen vyandige elemente te beskerm, is vinnig besig om 'n vry en oop samelewing, gekenmerk deur sy gasvryheid en warmte, te verander.

Baie mense, ironies soms in digbevolkte stede, lei 'n eensame bestaan. Hulle gesinne en vriendekring het soos die jare aanstap, al kleiner geword. Hulle voel eensaam en ongeliefd.

Jesus se hart is gevul met deernis vir hulle. In ons vers vir vandag reik Hy ook na hulle uit en verseker hulle van sy en die Vader se liefde. Daardie selfde liefde is aan jou en my gegee.

Deur Jesus Christus is ons in die regte verhouding met God. Soos Paulus aan die Romeine verduidelik het, ons is nie langer God se vyande nie, maar sy vriende. En ons kan ons verheug in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.

"Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het." Romeine 5:3-5

Die Heilige Gees vul ons harte met die wete dat God ons liefhet. Dit maak nie saak hoe dikwels ons alleen is nie, ons is nooit alleen nie, want God leef in ons harte.

Gebed: Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. (Klaagliedere 3:22-24) Amen