Neville Turley

Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het.  Openbaring 1:9

Om die boek Openbaring te verstaan, benodig 'n mens insig in die lewe van sy outeur en die agtergrond waarteen Johannes dit opgeteken het. Dit is nie die openbaring van Johannes nie, maar wel die openbaring van die opgestane Jesus Christus.

Christus het 'n engel gestuur om aan gelowiges te openbaar wat die toekoms vir hulle inhou en hulle daardeur te vertroos. Dit is 'n boodskap van hoop, nie net vir die geslag van Johannes nie, maar vir alle Christene.

In die tyd van Johannes is Jesus se volgelinge deur die Romeinse onderdrukkers vervolg. Keiser Domitianus (81-96 n.C.) het Johannes na Patmos verban en dit was hier waar hy die openbaring van Jesus Christus ontvang het.

Die boek Openbaring dwing Christene om met volle vertroue en verwagting hulle omstandighede te trotseer, selfs wanneer hulle lyding verduur. Hulle Verlosser gaan triomfantlik terugkeer en Satan en die bose magte vernietig. Daar sal geen pyn meer wees nie, geen trane, en dood sal nie meer bestaan wanneer ons Here Jesus weer kom om sy koninkryk in die volheid van God te vestig nie. Openbaring voltooi die verhaal van God se skepping wat in Genesis begin het.

In Genesis het God die heelal gemaak – die hemel en die aarde en die water op die aarde. In Openbaring lees ons van 'n nuwe hemel en aarde wat die oue sal vervang en die see sal verdwyn.

In Genesis het God die son en die maan gemaak. In Openbaring sal die son en die maan nie meer nodig wees nie van God self sal die lig wees.

In Genesis is daar die huwelik van die eerste Adam. In Openbaring lees ons van die huweliksmaal van die tweede Adam – Jesus Christus.

In Genesis lees ons van die begin van die sonde. In Openbaring verdwyn die sonde.

Die twee mees omstrede boeke in die Bybel is Genesis en Openbaring. Die een vertel van die val van Satan en die ander profeteer dat hy uiteindelik vernietig sal word. Geen twyfel, hy is aktief besig om verwarring en twyfel oor Gods Woord te saai. Wees versigtig vir die groot verleier. Hy sal enigiets doen om ons weg te lok van die Rots van ons Verlossing. Hou vas aan die Rots!

Gebed: Hemelse Vader, gee dat u Heilige Gees ons deur Jesus Christus van die bose sal bewaar.  Amen