Neville Turley

Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. Psalm 90:12

Getalle kan baie bedrieglik wees. In die lig van ons ekonomie is 'n miljoen rand nie eintlik so baie nie. Lees 'n mens oor teoretiese fisika is 'n miljoen werklik baie gering.

In sy boek “Brief answers to the big questions” skryf Stephen Hawkins: “There is fossil evidence that there was some form of life on earth three and a half billion years ago. This may have been only five hundred million years after the earth became stable and cool enough for life to develop.”

Ons moet egter nie uit die oog verloor dat wanneer ons na jare eerder as rande verwys, 'n miljoen wel baie lank is nie. As 'n mens 'n honderd jaar leef, het jy maar net 36 525 dae geleef, 'n fraksie van 'n miljoen. Die meeste van ons gaan nie so lank leef nie. Die psalmdigter skryf: "Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe." (Psalm 90:10)

In die bybelse konteks het daar maar ongeveer 730 000 dae verloop sedert die engele die geboorte van ons Here Jesus in Betlehem aangekondig het.

Wat belangrik is, is nie hoe lank ons leef nie, maar hoe ons ons tyd op aarde bestuur. Ons tyd hier is 'n kosbare geskenk van 'n liefdevolle God en wat ons in sy diens moet gebruik. Ons weet nie hoe lank ons gaan leef nie. Wat ons wel weet, is dat wanneer ons die ewigheid betree waar tyd nie bestaan nie, sal ons beoordeel word oor hoe ons tot eer van God geleef het.

Dit is 'n groot verantwoordelikheid, maar loof die Here, die Heilige Gees is met jou en my om ons elke tree van die pad te lei.

Gebed: Hemelse Vader aan U al die eer en die lof. Gee dat u Heilige Gees ons leer hoe om ons tyd effektief te gebruik sodat ons kan groei in ons verhouding met U. In die Naam van Jesus Christus ons Here. Amen