Neville Turley

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.  Johannes 1:1-3

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes 1:14

Baie mense het verskillende opinies oor Jesus. Hy is vandag steeds relevant en ook kontroversieel. Jesus is die Woord van God wat mens geword het en onder ons kom woon het.

Baie van ons wonder oor die oorsprong van die wêreld. Waar het alles begin? Gaan dit tot 'n einde kom?

Fisici wat slegs die wette van die natuur wat deur wiskundige formules bewys kan word aanvaar, glo hulle het die antwoord gevind. Na dekades se navorsing gebaseer op onder andere die teorieë van Albert Einstein (1879-1955) het fisici die "Big Bang" teorie geformuleer. Êrens, in die verre verlede het drie elemente – positiewe energie, ruimte en negatiewe energie – saamgesmelt en 'n massiewe ontploffing veroorsaak en die heelal het spontaan tot stand gekom waar daar voorheen niks was nie.

Christene vind egter hulle antwoord in Genesis en Openbaring. Die eerste sin in die Bybel lui: "In die begin het God die hemel en die aarde geskep." Op daardie eerste dag het tyd en hoop ontstaan.

In ons vers vir vandag, laat die apostel Johannes by ons geen twyfel nie dat God en Jesus Een is in beide skepping en verlossing. Die apostel Paulus bevestig vir ons verder wie Jesus is. "… is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe." (1 Korintiërs 8:6)

Die vroeë Christene het die simbool van 'n vis gebruik as 'n teken dat hulle volgelinge van Jesus is. Die Griekse woord vir vis is "ichthus" en die letters van die woord vorm 'n akroniem vir "Iesous Christos Theou Uios Soter", wat beteken Jesus Christus, Seun van God, Verlosser.

Sommige Christene vertoon vandag nog die teken van die vis. Alle Christene moet egter deur hulle leefstyl bewys dat hulle Jesus volg.

Gebed: Hemelse Vader, skenk aan ons deur u Heilige Gees genade om deur woord en daad van ons liefde vir U te getuig. Amen