Neville Turley

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop … (1 Petrus 1:3)

Ons geloof kan soms 'n terugslag kry wanneer ons deur moeilike tye gaan en ons hoop verydel word. Petrus wat naby die Here Jesus Christus geleef het, is 'n voorbeeld hiervan.

Petrus het Jesus liefgehad. Hy was die eerste dissipel om te erken dat Jesus die Messias, die Seun van die lewende God, is.

Petrus het egter die aard van Jesus se sending heeltemal misverstaan. Toe Jesus aan sy dissipels vertel het dat Hy na Jerusalem toe moes gaan waar Hy baie sou ly en uiteindelik gekruisig sou word voordat Hy na drie dae uit die dood opgewek sou word, het Petrus Hom berispe.

Petrus was lojaal aan Jesus. Lukas vertel ons dat selfs toe Jesus gevange geneem en na die huis van die hoëpriester geneem is, het Petrus op 'n afstand agterna gekom. (Lukas 22:54b)

Met Jesus se dood, het alle hoop ook vir Petrus gesterf. Al sy drome van Jesus wat 'n koninkryk op aarde sou vestig, het aan skerwe gelê. Die feit dat Jesus gesê het dat Hy na drie dae uit die dood sou opstaan, is deur die realiteit verdring. Jesus se lewelose liggaam is van die kruis gehaal en begrawe in 'n graf wat aan Josef van Arimatea behoort het.

Toe, op die derde dag het die vroue wat na die graf gegaan het met die reukolie wat hulle voorberei het, 'n leë graf gevind. Twee engele het aan hulle vertel dat Jesus uit die dood opgewek is. Petrus en die ander dissipels het nie onmiddellik die vroue se storie geglo nie, maar het hulle tog saam met Johannes na die graf gehaas. Dit moes hulle tog laat dink het aan Jesus se woorde en miskien 'n klein bietjie hoop. Jesus se verskeie verskynings aan sy volgelinge na sy opstanding het hulle finaal oortuig dat Hy waarlik opgestaan het.

Petrus en sy mede-dissipels het besef dat Jesus die dood oorwin het en dat Hy leef. Hy is waarlik die Messias en diegene wat op Hom vertrou en in Hom glo, sal tot in ewigheid saam met Hom in die hemel leef. Hierdie hoop het hulle gemotiveer om sonder om te skroom die evangelie te verkondig, selfs tot die punt waar sommige van hulle gemartel is of in ballingskap moes leef.

Mag hierdie hoop ook vir elkeen van ons 'n bron van inspirasie en motivering wees.

Gebed: Gee dat die Heilige Gees ons sal lei om heilig te leef todat die dag aanbreek wat ons Verlosser, Jesus Christus, weer sal kom en ons vir ewig saam met Hom sal leef. Amen.