Neville Turley

Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer. Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons.  Psalm 33:20-21

Hoop word in die woordeboek gedefinieer as 'n gevoel van verwagting en vooruitsig. Ons wil graag dat alles goed gaan met ons en ons geliefdes. Selfs wanneer ons depressief en mismoedig is, vertrou en hoop ons dat alles beter sal gaan.

Sommige van ons is van nature vegters en is bereid om met alles in ons teen ons omstandighede te baklei. So 'n man was WE Henley (1845-1903). Terwyl hy in die bed lê met beentering, skryf hy die gedig "Invictus". Hy was 35 jaar oud toe sy linker been geamputeer is, 'n traumatiese operasie in die Viktoriaanse tyd.

Die gedig reflekteer sy moedige gees en sy vasbeslotenheid om teëspoed te oorkom. Hierdie bekende reëls uit die gedig getuig daarvan:

I am the master of my fate

I am the captain of my soul

Ons kan nie sy dapperheid ontken nie. Maar dit maak nie saak hoe wanhopig ons omstandighede is nie, ons hoef dit nie alleen aan te pak nie.

Ons Hemelse Vader het sy groot liefde vir ons bewys deur sy Seun na die wêreld te stuur om ons sondes op Hom te neem en sy lewe vir ons te gee sodat ons ons met die Vader kan versoen.

Daardie groot bewys van liefde, verlang egter 'n reaksie van ons. Ons moet ons na die Here Jesus Christus wend en Hom as ons Verlosser aanneem en ons lewens aan Hom oorgee. Slegs deur God volkome te vertrou, kan ons hoop dat Hy by ons sal wees om al die uitdagings van die lewe te kan hanteer.

Ons moet ons hoop en vertroue op Jesus vestig, van wie ons lees: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie." (Johannes 14:6) Hy is ons enigste Hoop.

Gedurende Maart gaan ons die waarde van hoop bespreek, dié kosbare geskenk van die Heilige Gees van God aan jou en my.

Gebed: Here, ons vertrou op U en ons vestig ons hoop op U. Gee dat u ewige liefde voortdurende by ons sal wees. Amen